Ons het voorwaar gelewe

Deur: Johan Strasheim

Deur: Johan Strasheim

Lank, lank gelede voor TV, rekenaarspeletjies, dwelms en vigs … Was daar ’n tyd waarin ek gelewe het. Ek praat nou van die tyd van veilig speel in die parkie, ek praat van die kafee op die hoek, “hop scotch” vir meisiekinders en “alie-tyd” by die skool. Wie weet nog wat is ’n “kasie” albasters?

Daar was touspring, giffie en donkie, kennetjie en krieket in die groot agtertuin, Haas Das se Nuuskas vroegaand, Butler Parker op TV Vrydagaande, swem in die rivier, ’n swaai maak van tou aan ’n groot wilgeboomtak, rugby op die oop stuk veld oorkant die pad en handjietennis in die straat.

Ek onthou die reuk van koekiesbak uit die kombuis, gemmerbier in die spens en kougom vir ’n sent. Daar was dan selfs ’n halfsentmunt!

Die groot ouens het smiddae “pinball” gespeel in die kafee en Texan of Lucy Strike plain-“skywe” gerook. Dié wat regtig goed was, kon lank speel met een vyfsent want hulle het baie “free games” gekry en die masjien net genoeg geskommel om dit nie te “tilt” nie.

Ja, kan jy nog onthou … toe jy moes was en aantrek om saam “dorp toe” te gaan. Skoene was net vir spesiale ge­leenthede na skool. Honderde muskietbyte, stukkkende knieë en repe vel af­dop in die somer. “Cowboys en kroeks”, “rounders”, “foefie-slide”, kaskarre en boomklim, boomhuise, modderkoekies bak en altyd skool toe loop of fietsry – ongeag die weer of hoe vêr dit was.

Jagertjie speel tot jy poegaai op die gras neerslaan sonder asem. Lag tot jou maag pyn. Rondomtaliedraai tot jy dronk-dronk neerval. Moeg en vuil gespeel laatmiddag in die huis inkom en hoop jy het nie huiswerk vergeet nie.

Die grootste verleentheid was om laaste vir ’n “kant” gekies te word – maar dan is jy tog ten volle as spanmaat aanvaar. Waterbomme was belang­rike items. Wie kan nog ’n waterbom van papier vou? ’n Stukkie karton in die speke het jou fiets laat dreun. Swem by ’n pêl se huis totdat jou tone bloei, jou ore sing van die water daarin en jou oë bloedrooi is van die chloor en oop-oë swem. Dan huis toe jaag met jou fiets voor donker, anders is daar pro­bleme.

Daar is sommer baie. Kan jy nog proe en ruik? Die droë jelliepoeier uit die pakkie, of droë Milo vir sjokolade, yslollies in Tupperbakkies gevries van aanmaakkoeldrank, jou eie “sherbet” van versiersuiker en Eno’s – en lekker goor maag van te veel daarvan eet. Stinkbomme. Borrels blaas met seepwater en ’n strooitjie, lang ure se kook aan “kondensmelk” tot dit karamel word. Wilson-toffies en Hubbly-Bubbly-koeldrank, taai marshmellow-vis­sies en lang stukke “liquorish”.

Onthou jy toe die enigste tekkies wit seilskoene was, en die enigste keer wanneer jy dit kon dra, was vir “PT”. Agterna moes dit weer spierwit gemaak word met “shoe shine”. Dit was nie vreemd om twee of drie “beste” maats te hê nie, en niemand het betaal vir ’n troeteldier nie. Almal het sywurms ge­had en dit een keer bo in jou kas vergeet tot die volgende seisoen. Ek weet steeds nie of hulle regtig pienk sy spin as hulle beetblare eet nie. As jy ge­luk­kig was het jy 25c vir sakgeld of vir die kermis gekry. Ons moes ons tafels ken en hoofrekene kan doen.

Omtrent almal se ma’s was by die huis as die skool uitkom. Die lekkerte van by die roadhouse gaan eet – uiteet by ’n restaurant of hotel was taboe vir kinders. Was daar al restaurante? Ek onthou spoggerige etes is gewoonlik by die plaaslike hotel geniet.

Onthou jy toe niemand ’n wenkbrou sou lig as enige ouer ’n kind berispe of in die werk steek nie en almal op die werf kosgee as dit etenstyd is. Om by die skool gestraf te word was niks in vergelyking met wat tuis wag as jou ma daarvan hoor nie. Ons was doodbang – nie vir aanranding, dwelms, bendes en sulke goed nie. Grootmense wat geweet wat aangaan, was ’n baie groter be­dreiging.

Onthou jy nog toe besluite geneem is met “eeny-meeny-miney-mo” en “ching-chong-chai”? Onaangename ta­kies is eenvoudig omseil met ’n baie vinnige “nieks deps”. Geldsake was net in Monopoly belangrik. Die ergste wat jy van die “ander” geslag kon kry, was kieme en, toe jy klein was, meisiespes. Maar ook net tot in ’n stadium toe ’n ander, nuwe wêreld vir jou duidelik ge­word het.

Gevang met ’n wapen by die skool het beteken die geel Bic-pen-“pea shoo­ter” waarmee jy klasmaats ag­ter die oor probeer skiet het of dalkies ’n kettie op die speelgrond. Roomys was kos – veral draairoomys – en jou perke van waagmoed is ontdek as iemand jou “dare”. Ouer broers was die grootste boelies maar ook die beste beskermers. Hulle het jou geleer van zombies teen die plafon vasgooi in die klas.
As jy die meeste van dié dinge ont­hou, dan het jy ook gelewe!