
Die merkwaardige boomstomp Bloch by die KKNK! Foto: Wilhelm Vintcent
ARTKAROO, kunsgalery op Oudtshoorn, pak vir vanjaar se fees ’n projek aan waartydens hulle komtemporêre kuns met ’n ou Switserse tradisie wil kombineer.
Die galery het betrokke geraak by ’n wêreldwye projek waar ’n boomstomp wat twee ton weeg en vyf meter hoog staan die middelpunt is.
Die boomstomp, Bloch genoem, het Dinsdagaand op Oudtshoorn aangekom nadat dit per skip na Suid-Afrika gereis het.
Bloch is deel van ’n ou tradisie in Switserland waar ’n boom – nadat al die takke in die winter afgekap is – ook afgekap word en die boomstomp deur ’n groep mans tussen twee dorpe getrek word. Aan die einde van die tog word die stomp op ’n veiling verkoop en spesiale meubels word gewoonlik daarvan gemaak.
Bloch is in 2011 deur twee Sweedse kunstenaars, Marcus Gossolt en Johannes Hedinger (bekend as Com & Com), gekoop en dié boomstomp was sedertdien al in Europa, Asië en Noord-Amerika as deel van verskeie kunsprojekte.
Bloch gaan by ArtKaroo (in die stegie langs Mr Price in Kerkstraat) geïnstalleer word en plaaslike kunstenaars sal daar by ’n kunsprojek betrokke raak. Feesgangers sal die vordering met die projek daagliks kan dophou.
Volgens Wilhelm Vintcent, kreatiewe konsultant van ArtKaroo, sal beeldmateriaal ook oor die projek geskiet word en ’n kortfilm sal saamgestel word wat in Switserland sal open.