Oud-burgemeester kry 5 jaar

Gordon April.

Gordon April.

Deur Garnett Wicomb
’N VOORMALIGE burgemeester van Oudts­hoorn, Gordon April, is gister in die Oudtshoorn Streekhof vyf jaar gevangenisstraf op­gelê. Hy is skul­dig bevind op aanklag van die diefstal van sand en klip van die munisipaliteit, die onwettige gebruik van munisipale voertuie, intimidasie en poging tot regsvery­de­ling.
April se mede-beskuldigde, Raymond Wagenaar, wat skuldig bevind is aan diefstal en die onwettige gebruik van munisipale voertuie, het net ’n opgeskorte vonnis gekry.

April gaan vandag aansoek doen om verlof om teen die vonnis te appelleer.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het met von­nisoplegging gesê April het sy posisie as bur­gemeester misbruik tot voordeel van homself en Wagenaar op dié manier ook “in die gemors” laat beland. April het geen berou getoon nie en nie oop kaarte met die hof gespeel nie.

Die landdros het April beskryf as arrogant en iemand wat net aan homself dink.

Hy het April se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, se versoek om korrektiewe toesig van die hand gewys weens die erns van die misdade.

“Regsverydeling of poging daartoe word deur die howe in ’n baie ernstige lig beskou,” het die landdros gesê. “Dwarsboming van die reg kan nêrens in die wêreld toegelaat word nie en die erns daarvan kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit sal tot die belemmering van die regstelsel lei.”

Die hof het April se vorige vonnisse as verswarend bevind. Hy is voorheen aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, bedrog, dronk-bestuur, onwet­ti­ge verkoop van drank en aanran-ding gewoon skul­­dig bevind, maar het nog nooit gevangenisstraf uitgedien nie.

“Dit is duidelik dat u nie ’n wetsgehoorsame landsburger is nie en ook nie geleer het uit vorige vonnisse nie,” het Van Wyngaardt gesê.

Die staatsaanklaer, Tommy Verreyne, het die hof versoek om April gevangenisstraf sonder opskorting op te lê omdat dit die enigste gepaste vonnis sal wees en ’n boodskap sal uitstuur vir andere.

April is tot een jaar gevangenisstraf gevonnis op die vyf aanklagte van diefstal van sand en klip van die munisipaliteit en die onwettige gebruik van munisipale voertuie, twee jaar vir intimidasie van ’n munisipale werknemer, Aubrey Rala, en ses jaar vir poging tot regsverydeling deurdat hy Rala aan-gesê en gedreig het om niks te sê oor die sand en klip wat hy na sy (April se) huis geneem het nie.

Twee van die ses jaar is opgeskort, terwyl die orige vier jaar en die vonnis van twee jaar sa­me­lopend uitgedien kan word. Dit beteken dus effektief ’n vonnis van vyf jaar.

Wagenaar is gevonnis tot ’n boete van R1000 of een jaar gevangenisstraf wat voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort is.