Deur Ilze-Mari Gründling
’N JONG man het Saterdagaand aan ’n steekwond gesterf na ’n onderonsie tussen hom en ’n 21-jarige man by die ingang van Oudtshoorn vanaf De Rust se kant.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is polisiebeamptes omstreeks 23:40 na die inligtingsbord op die N12 ontbied, waar die 28-jarige Chestyn van Wyngaardt aangetref is.
“Die polisie het ’n man, wat met sy gesig na onder gelê het, aangetref. Hy het ’n steekwond aan sy bors gehad,” sê Michaels.
Volgens Michaels is Van Wyngaardt op die toneel oorlede.
Die 21-jarige verdagte, Lorenzo May, het Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof voor landdros Roelf Konstabel verskyn en is R1 000 borg toegestaan.
Hy verskyn weer op 4 April.