Eerste 30 huise in Prins Albert oorhandig

Prins Albert se burgemeester, Goliat Lottering, knip die lint om die    voordeur van Ellen Sarels, die heel eerste ontvanger van ’n huis in die dorp se nuwe reuse-woonontwikkeling.           Foto: Marlene Malan

Prins Albert se burgemeester, Goliat Lottering, knip die lint om die voordeur van Ellen Sarels, die heel eerste ontvanger van ’n huis in die dorp se nuwe reuse-woonontwikkeling. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Die eerste 30 huise van ’n R35 miljoen-woonontwikkeling in Prins Albert is verlede Vrydag aan hul nuwe huiseienaars oorhandig. Dit is deel van ’n nuwe woonbuurt van 247 huise in Noordeinde in die dorp, gefinansier deur die Wes-Kaapse regering.

Die burgemeester, Goliat Lottering, asook die onderburgemeester, Linda Jaquet, en die res van die dorpsraad het die name van die 30 begunstigdes – enkel­lopers, egpare en lewensmaats – tydens ’n seremonie uitgeroep en ’n verwelko­mings­pakket aan hulle oorhandig. Die ge­leentheid is ook bygewoon deur ver­- teen­woordigers van die departement behuising van die Wes-Kaap en die ont­wikkelaar, Asla.

Van die huisontvangers het langer as 30 jaar op hul eerste huis gewag.

Elke huis kos R160 000 en bestaan uit ’n woonvertrek en kombuishoek, twee slaapkamers en ’n badkamer met bad en toilet.
Ellen Sarels (62) was die eerste ontvanger van ’n sleutel vir haar voordeur wat sy saam met Lottering seremonieel oopgesluit het.

Sarels het aan Die Hoorn gesê haar naam is sedert 1982 op ’n behuisings­waglys, en dat hierdie eerste eie huis “ ’n droom is wat waar geword het”.

Elektrisiteit sal binne twee maande in die huise geïnstalleer word. Lottering het gesê die raad het die keuse gehad om die huise terug te hou totdat die installasie voltooi is, of om die huise nou reeds aan hul regmatige eienaars te oorhandig. Laasgenoemde opsie is gekies, “omdat klaargeboude huise wat leeg staan die gevaar loop om gevandaliseer te word”. Die res van die huise sal deurlopend by voltooiing aan hul nuwe eienaars oor­handig word. Die munisipaliteit, Wes-Kaapse departement behuising en Asla “sal seker maak van die toestand van elke nuwe woonplek voordat dit betrek word”.

Lottering het aan die huiseienaars gesê: “Julle name staan nou op ’n transportakte. Niemand kan die huise van julle wegvat nie.”

Die 30 nuwe huiseienaars, almal ouer as sestig, was aangedaan en oorstelp, of het danspassies uitgevoer toe hul name genoem is.

Lottering het dit duidelik gemaak dat die munisipaliteit van hulle verwag om hul huise, erwe en woonbuurt in stand te hou, en hul diensterekening gereeld te betaal.

“As munisipale dienste nie betaal word nie, kan ons dit nie lewer nie. As u minder as R3 500 per maand verdien, kan u aansoek doen om deernishulp en subsidies. Ons het ’n kredietbeheerbeleid. Al­mal moet betaal in die beste belang van die dorp.”

Waterlekkasies en bougebreke moet ge­rapporteer word, nuwe strukture of aanbouings by die huise moet deur die munisipaliteit goedgekeur word, eienaars moet hul woonplekke omhein, hulle mag hoogstens twee honde aanhou “wat u goed moet versorg”, en hulle moet die munisipale nooddiensnommer (082 220 0848) byderhand hou.

Lottering het gesê ’n openbare deelnameproses sal plaasvind om op straatname te besluit.

“Nommers sal toegeken word aan die huise, en die buurt en strate sal vernoem word na mense wat ’n bydrae tot die gebied gelewer het.”