150 000 liter vir droë dorpe!

Prins Albert kry water van skole

Raadslede van Prins Albert en werkers wat die duisende bottels help aflaai het. Agter van links is raadslid Elsabe Maans, Mark Steyn, Linda Jaquet, Goliat Lottering en Stoffel Botes, saam met die bestuurder van een vragmotor, Billy Conradie, wat sy vrou en twee kinders saamgebring het.                   Foto: Marlene Malan

Raadslede van Prins Albert en werkers wat die duisende bottels help aflaai het. Agter van links is raadslid Elsabe Maans, Mark Steyn, Linda Jaquet, Goliat Lottering en Stoffel Botes, saam met die bestuurder van een vragmotor, Billy Conradie, wat sy vrou en twee kinders saamgebring het. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
SKOLE aan die Rand het verlede week 150 000 liter water aan die droogtegeteisterde dorpe Prins Albert en Beaufort-Wes geskenk, ná ’n reuse-insamelingspoging onder leer­ders en onderwysers van 18 skole in dié deel van die land.

Twee vragmotors het Vrydag in elk van die twee dorpe aangekom, volgelaai met water in houers van enige grootte en vorm.

Op Prins Albert is die welkome skenking deur die burgemeester, Goliat Lottering, onderburgemeester, Lin­da Jaquet, en nog raadslede in ontvangs geneem.

Die bestuurder van een vragmotor, Billy Conradie, het ’n brief van die hoof van die Laerskool Hoëveld aan Lottering oorhandig.
Die hoof, Marietjie Stuart, skryf in haar brief: Water is lewe. Met hierdie water stuur ons, die gemeenskap en leerders van die Laerskool Hoëveld, vir julle die lewende water. Ons bid dat julle gou reën sal ontvang en dat ons Hemelse Vader julle hiermee sal seën. Elke bottel is met liefde deur ons kinders bymekaar gemaak as bewys van omgee vir ons medemens.

Lottering het gesê Prtins Albert en sy inwoners is dankbaar vir die skenking, “omdat dit ’n bevestiging is dat ons in hierdie droogteramptyd in die gedagtes en gebede van ons medemens is, wat hulle oorvloedige water met ons deel”.

Die water is ingesamel vanweë die dryfkrag van twee polisievroue in Secunda wat ’n kompetisie onder 18 skole begin het om te kyk wie die meeste water vir die droë Groot Karoo se mense kan insamel.

Drie van die vragmotors is gratis deur Sasol beskikbaar gestel, en ’n vierde deur ’n anonieme skenker.

Die Prins Albert Munisipaliteit het die water aan inwoners en instansies geskenk wat die ergste deur die waternood geraak word, onder meer die tehuis vir bejaardes, Huis Kweekvallei.

Elke huishouding in die dorp kon ook 20 tot 30 liter water gratis gaan haal.