Kannaland-raadslid in hegtenis vir bedrog

Werner Meshoa.     Foto verskaf

Werner Meshoa. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
’N ICOSA-RAADSLID van die Kannaland Munisipaliteit, Werner Meshoa, is Maandagoggend (26 Fe­bruarie) deur die Valke in hegtenis geneem op ’n klagte van bedrog.

Meshoa het dieselfde dag in die Ladismith Landdroshof verskyn en is borgtog van R1 000 toegestaan. Die saak is uitgestel na 15 Maart.

Meshoa is ’n raadslid vir Calitzdorp en ook die nasionale voorsitter van Icosa. Hy was volgens Icosa se nasionale woord­voerder, Dawid Kam­fer, buite die dorp toe die Valke hom gesoek het en het dadelik gereël om terug te keer na Ladismith waar hy homself oorgegee het.

“Die Valke het dit baie waar­deer,” sê Kamfer. Volgens Kamfer hou die klagte verband met brandstofkoste van sowat R2 000 wat die raad gevra het Meshoa moet terugbetaal nadat sy voertuig in Oktober 2017 op pad Kaapstad toe gebreek het en hy nie ’n vergadering in Kaapstad kon bywoon nie.

Kamfer het die inhegtenisname van Meshoa as ’n heksejag deur die DA en ANC bestempel.

Ian Avontuur, woordvoerder van Kannaland se burgemeester, Magdalena Barry, het in ’n verklaring sy kommer uitgespreek oor die skade wat die inhegtenisneming aan Kannaland se beeld en integriteit aangerig het as gevolg van Meshoa se inhegtenisname.

Hy verwys ook in die verklaring na ’n deursoekingsoperasie van die Valke in 2017 by Jeffrey Donson, Icosa se president, se huis en by Icosa se hoofkantoor op Ladismith.

“Ons wag op die finalisering van ’n forensiese ondersoek, en verwag groter korrupsieskokke gaan kom vir Kannaland se vorige bestuur.

“Die voorlopige forensiese ondersoek het alreeds wanadministrasie van sowat R15 miljoen uitgelig. Avontuur het die hoop uitgespreek dat die res van die Valke se ondersoek so spoedig moontlik afgehandel sal word, sodat diegene wat hulle skuldig gemaak het aan vergrype in die verlede aangekla kan word.

Avontuur beweer dat daar “grootskaalse korrupsie en plundery was in Donson se termyn as burgemeester”.
“Onder Donson het korrupsie en bedrog verbysterende afmetings aangeneem, maar die gety het nou teen Donson en Icosa begin draai,” het hy gesê.

Avontuur het ’n beroep op Meshao gedoen om as raadslid te bedank.