Inwoner van Smartie Town vermoor

Deur Garnett Wicomb
’N 26-JARIGE man van Smartie Town het Maandag vlugtig op ’n klagte van moord in die hof verskyn.
Gabriel Goliath word daarvan aangekla nadat hy glo ’n vriend, die 34-jarige Bramwille May, met ’n mes in die nek gesteek het nadat hulle in ’n stryery was.

May het nadat hy gesteek is na sy huis gehardloop waar hy glo op die kombuisvloer inmekaar gesak en gesterf het.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval Vry­dag­aand omstreeks 20:38 in Reggie Oliphantlaan, Smartie Town, plaasgevind.

Landdros Lorraine Samuels het die saak Mandag vir verdere ondersoek en ’n borgaansoek tot 19 Desember uitgestel.