18 jaar vir verkragter van 19-jarige

Deur Garnett Wicomb
’N MAN wat ’n 19-jarige vrou twee keer verkrag het, is in die Oudtshoorn Streekhof 18 jaar tronkstraf opgelê.

Francois Lindt (26) van Thabo Mbeki Square, Bongolethu, het die aand van 11 Desember 2016 die vrou na die huis van haar kêrel vergesel om sy ma te gaan vertel dat hy deur lede van die Blur Blur-bende aangerand word.

Onderweg daarheen het hy haar egter ’n bouval binnegedwing, haar geklap en met ’n klip teen die wang gekap voordat hy haar verkrag het.

Hy het aan die vrou gesê dat hy vir niemand bang is nie. “Ek is bereid om tronk toe te gaan. Die polisie soek juis na my,” het hy aan die haar gesê.

Hy het haar probeer vang toe sy weghardloop, maar sy het weggekom en haar suster van die verkragting gaan vertel.

Streeklanddros Daniel Boks het Lindt se optrede as barbaars en afskuwelik beskryf, maar afgewyk van die minimum voorgeskrewe lewens­lange gevangenisstraf en Lindt tot 18 jaar gevonnis.