Geen borgtog vir vermeende bendeleier

Oudtshoorn Landdroshof.

Oudtshoorn Landdroshof.

Deur Garnett Wicomb
BORGTOG vir ’n vermeende bendeleier is verlede Donderdag in die Oudts­hoorn Landdroshof deur landdros Lorrane Samuels geweier.

Die man, Mandralino Meyer (22), is glo die leier van ’n bende wat volgens die landdros ’n skrikbewind in Rose Valley voer.

Meyer staan tereg op ’n aanklag van roof en is volgens die ondersoekbeampte, ao Daromé Burger, die leier van die Blur-Blur-bende.

Samuels het gelas dat Meyer in aanhouding bly omdat gevrees word dat hy weer by misdaad betrokke kan raak.

“Die staat het ’n sterk saak teen u en dit is duidelik dat u weer betrokke gaan raak by geweldsmisdade.

“Die gemeenskap word gevange gehou deur die bende se bedrywighede en het al optogte gehou.

“U is ’n jong man met ’n belowende toekoms, maar word geassosieer as leier van die Blur-Blur bende wat skokgolwe deur die gemeenskap stuur en kan nie op borg vrygelaat word nie,” het die landdros gesê.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 5 Junie uitgestel.

Vandena Premchand is die aanklaer in die saak en Jacques Malan van die Regshulpraad verskyn vir die beskuldigde.