
‘n Groepie Oudtshoorniete vergader vanoggend op die oop stuk grond langs die Bridgton Kliniek. Foto: Liesel le Roux
INWONERS van Oudtshoorn moet saamstaan en vir eens en vir altyd nee sê vir alle vorms van geweld teen vroue en kinders.
Dit was die boodskap van ‘n groep besorgde inwoners wat vanoggend op die oop terreine langs die CP Nel Museum asook die Bridgton Kliniek vergader het. Die hele gemeenskap word gevra om betrokke te raak en elke Maandag tusssen 13:00 en 14:00 op een van die bogenoemde twee plekke te vergader om hul teenstand te toon teen geweld teen vroue en kinders.
Dit volg nadat verskeie optogte en byeenkomste die afgelope week landwyd gehou is na die dood van verskeie vroue en kinders aan die hand van mense wat hulle geken het.
“Die tragedie is dat hierdie geweld normaal geword het,” het dr André Boezak, leraar van die VGK-kerk in Bridgton gesê.
Hester Grint, gemeenskapsaktivis wat dié byeenkomste geïnisieer het, het saamgestem. “Om die waarheid te sê, dit het die norm geword,” het sy gesê. Volgens Grint gaan dit oor alle vorme van geweld teen vroue in alle gemeenskappe – verbaal, fisiek of emosioneel.
Sam Coetzee, wat soos Grint betrokke is by die hulporganisasie Little Angels, het teenwoordiges aangemoedig om enige geval van geweld teen vroue en kinders by die polisie aan te meld. “Bel die polisie as daar so iets in jou straat gebeur. As jou seun of jou dogter kan sien of hoor wat daar aangaan, is dit nie privaat nie. Laat die polisie dan ‘n spektakel maak van die man verantwoordelik daarvoor. Die selnr 112 werk baie goed op alle selfone. Moenie stilbly nie!”
Gerda Tait, ook betrokke by Little Angels en ‘n berader, het gesê hulle is bereid om enige vrou te ondersteun. “Bel ons asb dat ons kan help.”
Kontaknommers: Sam Coetzee: 082 6433 925; Gerda Tait (berader): 061 83 66022; Priscilla du Toit (berader): 082 629 1677. (Berig: Liesel le Roux)