Onder ‘n groot groep vrywilligers wat hand bygesit het tydens die Spray-a-Thon was Kaelynn Webb (links) van Amerika en Lisa Frank van Duitsland wat tans as vrywilligers by die Cango Wildlife Ranch werk. Hier is hulle by ‘n hond pas nadat hy geopereer is. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
EENHONDERD EN VIER honde en ses katte is Dinsdag en Woensdag tydens die eerste Oudtshoorn Spay-a-Thon op Oudtshoorn gratis gesteriliseer in ’n poging om die aanwas van diere in die munisipale gebied te beperk.
Verskeie veeartse het in stadiums gelyktydig en sy aan sy by die kantore van die staatsveearts in Van der Rietstraat op Oudtshoorn gewerk om die massa-sterilisasie in twee dae te kon afhandel.
Die Spay-a-Thon was ’n inisiatief van twee dierewelsynorganisasies, Oudtshoorn Volunteers vir Diere en ACT (Animal Care Team), in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Landbou.
“Dit het fantasties goed gegaan en was ’n groot sukses, ” het ’n dankbare Vanessa Engelbrecht, voorsitter van ACT, gisteraand na afloop van die Spay-a-Thon gesê. Sy het groot lof gehad vir die samewerking van die veeartse.
Maandag is 55 honde en drie katte en Dinsdag nog 49 honde en drie katte gesteriliseer.
Die diere was almal afkomstig van eienaars wat nie sterilisasies kon bekostig nie. Onder hulle is plaaswerkers en inwoners van Rose Valley en die Kliplokasie.
Drie honde van die Oudtshoorn Diereskut is ook gesteriliseer.
\Die projek, wat R40 000 gekos het, is befonds deur fondsinsamelings wat die diereorganisasies gedoen het.
Honde en katte vanuit minder gegoede gebiede is ook tydens die twee dae behandel vir brandsiekte, wurmbesmetting, vlooie en bosluise.
’n Groot veeartsenyspan het hulle dienste beskikbaar gestel vir die Spay-a-Thon, naamlik dr Glen Carlisle van die Oudtshoorn Dierekliniek, drs Reinette du Plooy en Trude Stassen van die Kango Dierekliniek, drs Cathy Fox en Christiaan Blignault van die staatsveeartsdiens, dr Hilldidge Beer van die Ebervet Petcare Group, dr Chris Blignault van die PDSA asook die veeartsenyverpleegsters, Hilda Mills en Sunet Gouws.