ANC-ondersteuners van Zoar sê nee vir koalisie met Icosa

ANC-lede en ondersteuners van onder meer Wyk 3 in Kannaland wat gistermiddag van 17:00 buite die Maxisaal op Zoar gewag het vir ’n vergadering met lede van die ANC in die Wes-Kaap se uitvoerende provinsiale komitee. Die vergadering se doel was om die gemeenskap se gevoel te kry oor samewerking tussen die twee ANC-raadslede en die drie Icosa-raadslede. Vierde van links voor is me Magdalena Barry (met wit rok), ANC-burgemeester van Kannaland, en regs van haar is Philip Antonie, ook ’n ANC-raadslid. Foto: Schalk le Roux

ANC-lede en ondersteuners van onder meer Wyk 3 in Kannaland wat gistermiddag van 17:00 buite die Maxisaal op Zoar gewag het vir ’n vergadering met lede van die ANC in die Wes-Kaap se uitvoerende provinsiale komitee. Die vergadering se doel was om die gemeenskap se gevoel te kry oor samewerking tussen die twee ANC-raadslede en die drie Icosa-raadslede. Vierde van links voor is me Magdalena Barry (met wit rok), ANC-burgemeester van Kannaland, en regs van haar is Philip Antonie, ook ’n ANC-raadslid. Foto: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux
DIE ANC se lede en ondersteuners van onder meer Zoar in Kannaland het Dinsdagaand tydens ’n vergadering met die ANC in die Wes-Kaap se uitvoe­rende provinsiale komitee dit duidelik gestel dat hulle nie wil hê die ANC-raadslede van Kannaland moet ’n koalisie met die drie Icosa-raadslede van Kannaland vorm nie.

Volgens Jacob Nkokou, voorsitter van die DR Ludick-tak van die ANC in Zoar, het minstens vyftien inwoners tydens die vergadering opgestaan en redes aangevoer waarom die ANC-raadslede nie met Icosa moet saamwerk nie. Die mees algemene rede wat aangevoer is, was beweringe van korrupsie onder Icosa se leierskap en dat hulle nie inwoners se belange voorop stel nie.

Die afvaardiging van die Wes-Kaapse ANC met wie die vergadering gehou is, is gelei deur Khaya Magaxa, waarnemende voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap.

Sedert verlede jaar se algemene munisipale verkiesing het Icosa drie raadslede, die ANC twee en die DA ook twee. Ondanks teenstand van die ANC en die DA se provinsiale en streekstrukture werk die ANC en die DA in Kannaland saam.

Dinsdagaand se vergadering is gereël weens die ontevredenheid van die ANC se provinsiale en streeksleierskap oor dié samewerking met die DA.

Na wat betroubaar verneem word, wil die Wes-Kaapse leierskapstrukture hê Kannaland se twee ANC-raadsled moet ’n koalisie met Icosa vorm.

Barry en Antonie, wat tans dissiplinêr deur die ANC verhoor word oor die samewerking met die DA, sien klaarblyklik nie kans vir samewerking met Icosa en sy leier, Jeffrey Donson, ’n voormalige burgemeester van Kannaland, nie.

Die ANC se provinsiale leierskap het aan die einde van die vergadering gesê hulle neem kennis van die inwoners se gevoelens en dat hulle die ANC se nasionale leierskap daaroor sal raadpleeg.
Hulle sal dan by ’n opvolgvergadering terugvoe­ring gee.

• Die Hoorn het Dinsdagmiddag na Zoar gery om die vergadering, wat belê was vir 17:00 in die Maxisaal, by te woon. Teen 17:00 was talle ANC-ondersteuners van Zoar, asook van Calitzdorp, Ladismith en Van Wyksdorp, reeds by die Maxi­saal, sommige met plakkate. Die Wes-Kaapse ANC se verteenwoordigers het egter kort voor 18:00 eers opgedaag waarna die vergadering begin het. In daardie stadium het Faïez Jacobs, sekretaris van die ANC in die Wes-Kaap, nog nie opgedaag nie. Na wat verneem word, het hy eers kort voor die einde van die vergadering opgedaag.
• Na wat verneem word, werk die ANC en DA in Kannaland bo verwagting goed saam.