Nuwe, skoon lewe vir rioolplaas

Hooffoto bo: Die water by die rioolplaas op Oudtshoorn nadat dit gechlorineer is - ’n wêreld verwyder van hoe dit in 2015 daar gelyk het. By dié water staan van links die waarnemende direkteur tegniese dienste, Chris Koch en raadslede Johan Fourie (voorsitter van die tegniese komitee) en George Kersop (voorsitter van die finansiële komitee).                Foto: Liesel le Roux  Foto links bo: Die foto geneem by die rioolplaas in Februarie 2015 toon ’n dik laag rioolafval op die water. Die vuil water onder dié dik laag riool het direk in die Olifantsrivier gevloei. 								             Foto: Schalk le Roux Foto links onder: Ilse Oliphant, laboratoriumtegnikus by die rioolplaas, wat onder meer daaglikse en maandelikse chemiese toetse doen op rioolmonsters by die invloei en uitvloei van die rioolplaas om die gehalte van die water te meet.  Foto: Liesel le Roux

Hooffoto bo: Die water by die rioolplaas op Oudtshoorn nadat dit gechlorineer is – ’n wêreld verwyder van hoe dit in 2015 daar gelyk het. By dié water staan van links die waarnemende direkteur tegniese dienste, Chris Koch en raadslede Johan Fourie (voorsitter van die tegniese komitee) en George Kersop (voorsitter van die finansiële komitee). Foto: Liesel le Roux
Foto links bo: Die foto geneem by die rioolplaas in Februarie 2015 toon ’n dik laag rioolafval op die water. Die vuil water onder dié dik laag riool het direk in die Olifantsrivier gevloei. Foto: Schalk le Roux  Foto links onder: Ilse Oliphant, laboratoriumtegnikus by die rioolplaas, wat onder meer daaglikse en maandelikse chemiese toetse doen op rioolmonsters by die invloei en uitvloei van die rioolplaas om die gehalte van die water te meet. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN se rioolplaas het ’n lang pad gekom sedert 12 Februarie 2015 toe ’n berig oor die toestand van die rioolplaas op die voorblad van Die Hoorn opslae gemaak het.

In die berig, getitel ’n Munisipale rioolskande, is berig oor die haglike toestand van die rioolplaas waarvan groot dele nie meer gefunksioneer het nie met besoedelde water wat vanaf die rioolplaas in die Olifantsrivier geloop het.

Die besoedelingsvlakke van die water was in daardie stadium volgens ’n ingeligte bron waarskynlik ver meer as tien keer hoër as die wettig voorgeskrewe vlakke.

Met ’n besoek aan die rioolplaas vandeesweek was dit egter ’n ander prentjie.
Die aanleg is opgegradeer en ten volle in bedryf, terwyl daar reeds ver daarmee gevorder is om ’n ou aanleg langsaan ook te rehabiliteer.

Volgens die waarnemende direkteur tegniese dienste, Chris Koch, sal die bykomende aanleg ekstra kapasiteit verleen en druk verlig in gevalle wanneer groot getalle mense op die dorp is, soos byvoorbeeld met die jaarlikse KKNK. Die ou aanleg behoort binne twee weke ook te funksioneer.

Koch sê daar is besluit om geld te spaar en daarom die ou aanleg weer aan die gang te kry en nie ’n nuwe te bou nie. “ ’n Mens sien in baie dorpe ’n ou aanleg wat net so gelos is met ’n nuwe wat gebou is, maar mens kan so ’n aanleg weer ’n tweede lewe gee en daardeur geld spaar.”

Die rioolplaas het skielik besoe­kersvriendelik geword met kikoejoegras wat oral groei. Dit is netjies en skoon, oral word geverf en van reuke is daar net ’n skramse teken.
Dit moet so wees, glo Koch.

Hy vertel hy is van mening dat ’n rioolplaas wat goed bedryf word, so moet wees dat ’n mens daar selfs sou kon uitspan en vleis braai.

By die chlorineringskamer vertel Koch dat die water wat daardeur kom en na die Olifantsrivier vloei, se gehalte hoër is as die voorgeskrewe besproeiingstandaard.
“Alles hier werk en al die uitvloeie is skoon,” verseker hy.

Volgens Koch word tussen 7 en 8 miljoen liter riool elke dag op die rioolplaas verwerk.