Kerkleiers teken die belofte om voortaan sterk aksie te neem teen alle vorme van geweld. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
KERKLEIERS en honderde inwoners van Dysselsdorp het Sondag opgeruk na ’n interkerklike opelugdiens waartydens kerkleiers gebid het vir die euwels van geweld en misdaad wat besig is om die dorp en die land te vernietig.
Die diens is deur die onlangs gestigte Dysselsdorp Aksiegroep gereël na samesprekings met kerkleiers.
Tydens die diens is ook gebid vir elke inwoner van Dysselsdorp, elke woonbuurt en elke skool waar leerders en opvoeders ingestaan het, terwyl past Joey Thorne die boodskap gebring het.
Die kerkleiers het ’n belofte onderteken en hulle verbind om voortaan in hul onderskeie gemeentes sowel as die gemeenskap sterk op te tree teen alle vorme van geweld.
Dit sluit in geweld teen vroue en kinders, aanvalle op buitelanders, ontvoerings, verkragting, moorde, plaasaanvalle en skolegeweld.
Volgens Leon Campher, sameroeper van die geleentheid, was die die dag met die tema Taking back our City, baie suksesvol en geseënd en slegs die begin van verskeie be-plande aksies vir die toekoms om Dysselsdorp weer die rustige dorp van ouds te maak.
“Dysselsdorp het vandag weer gewys hoe daar in geloof saamge-staan kan word. Die gemeenskap is moeg vir al die geweld en moorde die afgelope tyd.”
Die Dysselsdorp Aksiegroep beoog, volgens Campher, om binnekort vergaderings te hou met verskeie rolspelers om ook die belofte te onderteken. Dit sluit regeringsorga- nisasies, gemeenskapsleiers, die SAPD, Maatskaplike Ontwikkeling, die Oudtshoorn Munisipaliteit, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement asook besighede in Dysselsdorp in.
Planne gaan ook bespreek word om te verseker die jeug van Dysselsdorp raak nie by misdaad betrokke nie.
Mense wat die Dysselsdorp Aksiegroep wil ondersteun, kan Campher kontak by 082 958 4348.