19-jarige voor vir verkragting

Deur Angelique Erasmus
’N 19-JARIGE man het in die Ladismith Landdroshof verskyn op ’n klagte van verkragting.

Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het die man na bewering die 28-jarige klaagster in die vroeë oggendure van 5 Oktober agtervolg toe sy van ’n kuierplek af huis toe gestap het.

“Hy het haar gewurg en gedwing om met hom gemeenskap te hê,” sê Cederas.

Na die voorval is die vrou na die Alan Blyth Hospitaal geneem vir mediese behandeling en ’n ondersoek.

Die verdagte is kort na die voorval in hegtenis geneem en sal vandag (17 Oktober) weer in die hof verskyn. Hy het die eerste keer op 8 Oktober in die hof verskyn.

Kapt Henry John Edwardes, hoof van sigbare polisiëring, het die lede geprys vir hul spoedige optrede.

“Die voorval is skokkend. Geweld teen vroue en kinders moet ten alle koste gestop word.

“Vroue moet ook nie alleen loop nie en donker plekke veral vermy.”