Aansoek om getuies terug te roep afgekeur

Deur Garnett Wicomb
DIE aansoek van ’n pastoor van Dysselsdorp wat teregstaan op drie aanklagte van verkragting, om drie getuies wat reeds getuig het, terug te roep, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof van die hand gewys.

Die 48-jarige Freddy Jaftha word daarvan aangekla dat hy by drie geleenthede in 2017 en 2018 seksuele dade met ’n 18-jarige tweeling gepleeg het. Hy pleit onskuldig op al die klagtes.

Sy nuwe regsverteenwoordiger, adv Stephen Lourens, het die hof Maandag versoek om die twee klaers en hul moeder terug te roep nadat hy na die bande van die verhoor tot dusver geluister het.

Streeklanddros Daniel Boks het die versoek geweier omdat hy van mening is dat dit onregverdig teenoor die klaers sal wees om weer deur dieselfde trauma in die hof te gaan.

Die klaers is ook deur Jaftha se vorige regsverteenwoordiger behoorlik onder kruisverhoor geneem.
Jaftha se borgtog is verleng en die saak is vir voortsetting tot 27 November uitgestel.