Die sestien 1959-matrieks van die Hoërskool Humansdorp wat begin Oktober hul 60ste matriekreünie op Oudtshoorn gehou het. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
Daar was nie ’n beter plek as Oudtshoorn om hul 60ste reünie te hou nie, was die eenparige terugvoer van ’n groep oud-matrieks van die 1959-matriekklas van die Hoërskool Humansdorp.
Nie net is Oudtshoorn sentraal geleë vir die meeste van die oud-matrieks wat hoofsaaklik in die Oos- en Wes-Kaap woon nie, maar die geriewe is ook uitstaande. Die 16 oud-matrieks het tydens hul reünie by Kleinplaas op die dorp tuisgegaan en onder meer Schoemanshoek besoek en by De Oude Meul ontbyt gaan eet.
Die Hoërskool Humansdorp se skoolgebou is in 1960 gesloop om plek te maak vir ’n nuwe skool wat sedertdien bekend staan as die Hoërskool Nico Malan.
Volgens Alta Germs, een van die matrieks en ’n inwoner van Oudtshoorn, het haar klasmaats ook al vorige kere op Oudtshoorn vergader omdat die dorp so gerieflik geleë is.