Bo: Christoff de Wet, wat onlangs as nuwe wynmaker by De Krans aangestel is, met De Krans se twee dubbelgoue medaljes.
Foto verskaf.
Onder: Daniel en Rozanne Nel met die medaljes wat Boplaas by Veritas gewen het. Foto verskaf

TWEE wynkelders van Calitzdorp, De Krans en Boplaas, het die afgelope naweek by die jaarlikse Veritas-toekenningsaand weer gewys dat hulle onder die topwynkelders in die land tel deur verskeie dubbelgoue en goue medaljes te wen.
Veritas word bestempel as die oudste en grootste wynkompetisie in Suid-Afrika.
De Krans het getoon dat hy ’n krag is om mee rekening te hou deur twee dubbelgoue medaljes te verwerf – vir sy Cape Vintage Reserve 2016 en Cape Vintage Reserve 2017, terwyl ’n goue medalje toegeken is aan die Muscat de Frontignan 2019.
Boplaas Familie Wingerde het op sy beurt sy sukses by die Michelangelo International Wine & Spirits Awards – waar die kelder as die land se beste produsent aangewys is – opgevolg met ’n dubbelgoue en vier goue medaljes by Veritas.
Die Boplaas Cape Tawny Reserve 1995 het dubbelgoud verower, terwyl die Boplaas Ring of Rocks 2016 (rooi versnit van Portugese kultivars), Boplaas Cape Tawny NV, Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2016 en Cape Vintage Reserve Port 2017 goue medaljes losgeslaan het.
Boplaas ontgin die afgelope 15 jaar die potensiaal van die Portugese variëteite wat tradisioneel in gefortifiseerde wyne gebruik is, om stilwyne te produseer. Die rooi Por- tugese kultivars Tinta Barocca, Tou- riga Nacional en Souzã is reeds gevestig op die plaas.