Diewe teiken Ladismith Spar

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Ladismith Polisie ondersoek ’n saak van huisbraak met die opset om te steel en diefstal nadat daar verlede Donderdag omstreeks 18:30 by die Ladismith Spar ingebreek is.

Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het die eienaar, Glen Diniz, se seun die volgende oggend op die diefstaltoneel afgekom.

“Toe hy die winkel om 05:55 oopsluit en sien dat dit deurmekaar is, het hy dadelik onraad vermoed,” sê Cederas.

Die polisie het vasgestel dat toegang tot die winkel verkry is deur die badkamervenster aan die agterkant van die winkel. Die diefwering by die venster was gebuig.

Volgens Cederas is die totale waarde van die gesteelde eiendom nie bekend nie. Sigarette, juwele, ’n skootrekenaar en kontant is gesteel. Die waarde van die Hewlett-Packard (HP)-skootrekenaar is sowat R20 000.

Enigiemand met inligting oor die inbraak kan die Ladismith-speurtak kontak by 028 551 8127 of die ondersoekbeampte, speur/sers David Matroos, by 028 551 8123. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.