Stander-uitspraak op 18 Oktober

Deur Garnett Wicomb
DIE uitspraak in ’n moordsaak teen ’n man van Oudtshoorn wat al byna drie jaar in aanhouding is, Melvin Stander (52), word op 18 Oktober in die Oudtshoorn Streekhof gelewer.

Stander word daarvan aangekla dat hy op Ou Kersdag 2014 vir Franky Oliphant (26) van Riemvasmaak doodgeskiet het.

Hy voer egter aan dat dit iemand anders was wat die sneller getrek het omdat hy nie die betrokke aand op Oudtshoorn was nie.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof by Stander se vorige verskyning vir skuldigbevinding gevra.

Volgens haar behoort die verdediging se twee getuies, Fernando Sampson en David Swarts, se getuienis dat Stander nie op die toneel was nie, verwerp te word. Sy het gesê sy aanwesigheid op die toneel word deur twee staatsgetuies, Riaan en Searl Swarts gestaaf. Hulle het getuig dat dit die beskuldigde was wat geskiet het en dat hy ’n geel Bafana-trui aangehad het. Die staat beweer ook dat Sampson en Swarts gedreig en geïntimideer is.

Stander se regsverteenwoordiger, adv Steven Lourens, het betoog dat Stander die voordeel van die twyfel moet kry en vrygespreek behoort te word.

Volgens Sampson en Swarts het ’n man met die naam Marius op Oukersaand 2014 vir Franky Oliphant doodgeskiet.

Stander voer aan dat hy die betrokke dag twee mans by die ingang na Riemvasmaak afgelaai en daarna op Matjiesrivier gaan kuier het. Hy het eers die volgende dag teruggekeer.

Swarts het ook getuig dat dit Marius was wat ’n geel Bafana-trui aangehad het en nie Stander nie.
Volgens Lourens het die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie en is die vuurwapen as gevolg van swak ondersoekwerk van die polisie nooit gevind nie.

“Die polisie moet teruggaan en die regte persoon in die hande kry en aan die man bring. Die beskuldigde is geregtig om ontslaan te word,” het Lourens afgesluit.

Die saak is verhoor deur streeklanddros Daniel Boks.