Brillesteler val flou na bloedverlies

Deur Garnett Wicomb
’N MAN wat helder oordag by ’n besig­heid in die middedorp van Oudtshoorn ingebreek en homself sodanig beseer het dat hy flou geword het, is in die Oudtshoorn Landdroshof drie jaar gevangenisstraf opgelê.

Steven Hendricks (24) is aan huisbraak en diefstal skuldig bevind deurdat hy op Sondag, 19 Maart, by Slabber en Slabbert Oogkundiges in Kerkstaat ingebreek en brille ter waarde van R26 000 gesteel het. Hy het ses relevante vorige veroordelings.

Hendricks het skul­dig gepleit en getuig dat hy die glasdeur op ’n skrefie sien oopstaan en toe oopgebreek het.

Sy hand het in die proses snye opgedoen en hy het onderweg huis toe as gevolg van die bloed wat hy verloor het, langs die pad flou geval.

Verbygangers het ’n ambulans gebel en hy is hospitaal toe geneem. Hier het die polisie beslag gelê het op die sakkie met gesteelde brille.

Die staatsaanklaer, Vandana Prem­chand, het vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Hendricks nie gebruik ge­maak het van kanse wat hy in die verlede gekry het nie.

Landdros Lorraine Samuels het met vonnisoplegging gesê die kommerwek­kende toename in oneerlikheidsmisdade moet hokgeslaan word, en dat ’n op­geskorte vonnis onvanpas sal wees.
Sy het daarop gewys dat Henricks die misdaad gepleeg het terwyl hy op parool was en dat hy as gevolg van mediese komplikasies “op heterdaad” betrap is.

Hendricks is tot 36 maande ge­vange­nisstraf gevonnis, waarvan sy 12 maande voorwaardelik vir vyf jaar op­geskort het. Hy is reeds in 2016 onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Die staat gaan versoek dat ’n opgeskor­te vonnis wat Hendricks verlede jaar opgelê is, in werking gestel word. Die saak is hiervoor tot 26 September 2017 uitgestel.