Onderburgemeester wil help en betrokke raak

Noluthando Mwati.      Foto: Ilze-Mari Gründling

Noluthando Mwati. Foto: Ilze-Mari Gründling

• Mwati ’n vrou wat voor vat

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE onderburgemeester van die Gro­ter Oudtshoorn, Noluthando Mwa­ti, gee om vir mense en glo dat almal gelyk behandel moet word.

“Ek het nie ’n politieke agtergrond nie, maar ek is lief vir die gemeenskap en wil net my bes doen om die gemeenskap te dien,” sê sy.

Mwati vertel dat sy en haar gesin sowat 17 jaar gelede na Oudtshoorn verhuis het en onmiddellik verlief geraak het op die dorp.

“Ek is oorspronklik van die Oos-Kaap. Toe ons hierheen verhuis het, was die diefstal en alkoholmisbruik nog laag. Die dorp was mooi en skoon. Met die tyd saam het ek egter gesien waar die probleme in die gemeenskap is en wou ek ’n manier vind om te help. Dit is toe dat ek besluit het om betrokke te raak by politiek.”

Mwati is die oudste van ses kin­ders en is in die Oos-Kaap deur haar ouma grootgemaak omdat haar ouers in Kaapstad gewerk het.

Sy sê dat sy aan die begin van haar politieke loopbaan erg gekritiseer is.

“Om veral ’n swart vrou, wat nie van Oudtshoorn afkomstig is nie, in my posisie hier te wees is nie maklik nie. Maar ek is lief vir wat ek doen. As jy lief is vir wat jy doen, maak dit nie saak wat ander mense sê nie.

“Ek is lief vir die mense van Oudts­hoorn. As ek ’n brood het, wil ek dit met almal deel.”