Vir Bressie staan tyd nie stil nie

TYD staan vir geen mens stil nie, behalwe miskien vir die 61-jarige Dawid Bresler.

Met dertien horlosies wat in slegs sy kombuis hang, en tientalle ander wat om elke hoek en draai van sy huis klokslag slaan, kan Dawid beslis vir Vader Tyd misgis word.

Dawid, of Bressie soos hy homself voorstel, het ’n voorliefde vir horlosies. “Met horlosies kan niemand my klop nie,” vertel dié kleurvolle karakter opgewonde.

Hy maak horlosies uit absoluut enigiets – soos ’n koeldrankblikkie, of dryfhout, of selfs net klomp ditjies en datjies wat hy aanmekaar slaan, en hy maak hulle ook reg.

Hy is tans besig om ’n antieke Perfut-horlosie reg te maak wat meer as 100 jaar oud is.

Volgens Dawid maak hy enige stilstaande horlosie vir jou oop, hy haal hom uitmekaar, en laat hom weer loop. Sy bekoring met horlosies kom van die getik wat die meganisme maak.

“Dit herinner my aan die gesang van my geliefde voëltjies,” sê hy, met verwysing na sy talle gevlerkte vriende wat hy in sy agterplaas aanhou.

Sy hande, soos met dié van ’n horlosie, staan vir niks stil nie. Hy sien wonderlike skeppings in goed wat ander mense op die ashoop gooi.

Sy huis en die manier hoe Dawid met absolute vreugde oor al sy optelgoed praat – wat van een hoek na die ander in sy huis en werkswinkel staan, laat ’n mens dink aan die liedjie: “’n vrot pampoen en ’n stukkende skoen; ’n kous sonder maat en ’n grammafoonplaat…” Sy huis is vol optelgoed wat hy in skatte vir ander mense gaan omskep.

Hy tel stokke op, weggooi hout, ou kunswerke en kettings, tot blikke. “Ek gooi niks weg nie, en hou ook nie daarvan dat mense deesdae alles op die ashoop of op straat laat lê nie. Ek tel dit op, en maak dit nuut,” sê hy. Dawid vat selfs uitgebrande vuurhoutjies, en omskep dit in ’n kunswerk.

Maar wag, hoe loop daai “informercial”-sinnetjie nou weer: “But wait, that’s not all!”

Dawid kan brei, hekel, houtwerk doen, skoene regmaak, naaldwerk doen, oorbelle maak en met leerriempies toor. Elke hoek van sy huis is gevul met een of ander kunstige projek waaraan hy werk, of wil werk.

Sy inspirasie en gawes kom almal van God af, sê hy. “Dit is met die gawes wat ek ontvang het dat ek kan doen wat ek doen, en daardeur wil ek net vreugde en liefde in mense se lewens bring. Ek het self nie baie nie, ek is nie ryk nie, maar met wat ek het, probeer ek gee aan die ge-meenskap, en ek probeer die Woord versprei.

“Mense dink dalk ek is mal, maar ek moet die lig en boodskap op mense laat skyn.”

Dawid vertel dat hy met sy hande werk vandat hy kan onthou. Selfs in sy loopbaan by gevangenisdienste oor die jare heen, het hy altyd sit en skets.

Met sy aftrede kon hy uiteindelik fokus op wat hy voor lief is. (Deur Stefan Skapie Goosen)