Brande tans onder beheer

TEEN Dinsdag (4 Augustus) het daar volgens die Oudtshoorn munisipaliteit drie brande rondom Oudtshoorn gewoed, met die brandweer van Oudtshoorn en die Tuinroete Distriksmunisipaliteit wat teen die vlamme geveg het.

Volgens die munisipale woordvoerder Ntobeko Mangqwengqwe was daar twee brande by Rooiheuwel, suid van die dorp, wat deur die Oudtshoorn Brandweer bestry is, en een noord van die dorp by Buffelsdrif waar die Tuinroete Distriksmunisipaliteit se brandweer hulp verleen het.

Die Buffelsdrifbrand het reeds Sondag verder noord op die Kango Grotte-pad naby Schoemans­hoek begin. Riete het in die kanaal begin brand en rook het oor die pad gewaai. Die brandweer het in daardie stadium die brand slegs dopgehou omdat dit moeilik bereikbaar was.

Die oorsprong van hierdie brand is steeds nie bekend nie, maar na wat verneem word, is geen permitte uitgereik vir die brand van riete nie.

Die Rooiheuwelpad is ook Dinsdag tydelik vir voertuie gesluit met sterk winde wat die brand daar aangejaag het. Hierdie brand het reeds Maandag begin.

Mangqwengqwe het gesê dat skade aan geboue en beserings vermy is, en het bygevoeg dat al drie brande teen gister met behulp van die bietjie reën, nog nie geblus is nie, maar wel onder beheer gebring is.

Anton Roetz, wie se plaas teenaan die Rooiheuwelpad geleë is, sê die brand kon baie erger gewees het as die wind verkeerd sou gedraai het, maar “gelukkig” het hy net sowat 3,5 km se heining verloor.

“Die rivier is veronderstel om elke twee of drie jaar te brand, maar dit moet beheer word, wat nie die geval hier was nie. Daar was geen permitte uitgereik vir ’n brand nie. Ek het dus ’n sterk vermoede dat hierdie brandstigting was,” het hy gesê.

Volgens Roetz was die manier waarop die brand beheer is ’n “pluimpie” vir Oudtshoorn se brand-weer, wat baie vinnig reageer het en uitstekende diens gelewer het.

“Ek moet vir hulle baie, baie dankie sê. Dankie ook aan ons bure en ander wat kom help het.” (Deur Stefan Skapie Goosen)