ONS almal weet baie van Suid-Afrika se paaie hou ’n gevaar in vir jou en jou motor. Hierdie gevare beïnvloed jou motor se bande, vellings en wielsporing. Jy kan hoe versigtig bestuur, maar jou motor se wielsporing kan uit raak.
Randstene – Die geringste stamp teen ’n randsteen kan die wielsporing uitstel. Pasop om oor ’n randsteen te ry en teen een vas te ry. Dit gebeur maklik in parkeerplekke en om draaie.
Spoedwalle – Wees uiters versigtig vir spoedwalle. Ja, die spoedwalle is ’n frustrasie vir ons almal, maar dit is juis daar om motorryers stadiger te laat ry op bepaalde plekke. Tref jy die spoedwal te vinnig, kan jy die wielsporing uitstamp of kan jy jou motor se onderstel beskadig.
Slaggate – ken ons hulle nie! Oudtshoorn se strate het baie slaggate – soos daar ook op baie ander plekke in die land is. In sekere provinsies is tot die grootpaaie vol slaggate. Dit is so maklik om ’n slaggat te tref. ’n Gedeelte van ’n sekonde se konsentrasie verloor kan ’n mens daardie slaggat net te vinnig tref en kan jy òf met skade aan jou motor sit òf die wielsporing uitstamp, of selfs die velling beskadig. In uiterste gevalle as jy teen ’n hoë snelheid ’n slaggat tref, kan dit ’n ongeluk veroorsaak. Wees uiters waaksaam vir slaggate.
Motorbotsing – ja, selfs die kleinste “fender-bender” kan die wielsporing uitstel. ’n Ernstige ongeluk kan meer as net die wielsporing uitstel.
Ongelukkig kan ons nie altyd ’n ongeluk vermy nie en is ons ook nie altyd die skuldige party nie. Laat die wiele balanseer en die wielsporing ná ’n ongeluk nagaan.
Instandhouding – of die gebrek daaraan. Instandhouding van jou motor se bande en wielsporing is net so belangrik soos die res van die motor se instandhouding. Die bande behoort elke 10 000 km omgeruil te word en die wielsporing elke twee jaar nagegaan word.
Optimale wielsporing voorkom dat die motor se bande oneweredig afloop en jou onnodige geld uit die sak jaag vir bande wat langer kon gehou het.
Hoe werk wielsporing – daar is drie verstellings by wielsporing naamlik die “toe”, “camber” en “caster”.
Om die verstellings te verduidelik is taamlik tegnies, maar die sketse hierbo gee ’n vinnge opsomming. (Deur Heinrich Bosman)