Sms’e van lesers

■ Kan die munisipaliteit nie plan maak met die palmbome in Voortrekkerweg nie? Dit vertoon onooglik aangesien dit nie in stand gehou word nie (prakties moeilik) en gevaarlik is wanneer takke val en ’n persoon kan beseer of selfs ’n motor kan beskadig! Die hemelhoë klossieblare wat hoeveel meters die lug in staan, bied geen skaduwee nie en het geen waarde nie. Vervang eerder palmbome en stokou roosbome met plaveistene wat onderhoud uitskakel en water bespaar. Klasie

■ Neem kennis: Waternood en hongersnood is baie erger as Covid-19-gevaar. Laat ons water spaar. Cecile Ungerer

■ Woensdagoggend agtuur en Oudtshoorn se strate is vol mense – die helfte verantwoordelik met hul maskers. Die ander helfte sonder maskers. Regtig?

■ Die drie maande van verpligte verlof waarop die munisipale bestuurder van Oudtshoorn geplaas is, verval die einde Mei. Alle ondersoeke en formulering van klagtes behoort dan afgehandel te wees. Weet die raadslede dat indien dit nie afgehandel is nie, hulle verantwoordelik behoort gehou te word vir vrugtelose uitgawe wat die salaris van die munisipale bestuurder insluit en die toelae van die waarnemende munisipale bestuurder.

Die munisipaliteit antwoord soos volg: Die afkon­diging van die grendelperiode het die tydige afhandeling van enige dissiplinêre sake gedurende die periode bemoeilik. Die ondersoek na die munisipale bestuurder, net soos ander sake teen perso-neellede, is ’n interne aangeleentheid en word as vertroulik hanteer. Die vraag of die ondersoek afgehandel is al dan nie, sal beanwoord word na die raad verslae in die verband hanteer het.

■ Sien op BBC-nuus dat die 838 skole in Korea weer gesluit is omdat die virus in skole uitgebreek het. Wat gaan die onderwysdepartement doen omtrent skole wat gestremdes onderrig? Baie van hulle is afhanklik van versorging. Wat van leer­ders met ander onderliggende siektes teen wie nie gediskrimineer mag word nie en wat ook versor­ging nodig het? Dan is daar ook leerders met ou­tis­me en Downsin-droom-kinder­tjies. Hoe op aarde gaan hierdie leerders die hele skool-dag ’n mas­ker op hou? Daar kan geen afstandbeheer toegepas word tussen die versor­gers, die leerkrag en dié leerders nie. Baie van hierdie leerders is baie liefdevol en vat graag aan jou, veral as hulle jou aandag soek. Hoe gaan skole dit han­teer? Eintlik gaan daar meer tyd in beslag geneem word om leer­ders op te pas as om hul te onderrig. As ek ’n ouer van hierdie spesiale leer­ders was, sou ek nie my kind skool toe gestuur het nie. Wondermaarnet