Thijs Nel het die wêreld vir homself en ander mooier gemaak

Thijs Nel, kunstenaar, skrywer, vriend. Foto: Schalk le Roux

My vriend Thijs Nel is laasnag – kort nadat die inperking in Suid-Afrika begin het – in afsondering in ’n siekeboeg op Oudtshoorn oorlede.

Hierdie woorde het ek op 27 Maart vanjaar geskryf. My hart was seer.
Ek het egter ’n ander weergawe hiervan die oggend op Die Hoorn se Facebook-bladsy gepos: Die bekende kunstenaar Thijs Nel (76) is laasnag op Oudtshoorn oorlede. Nel, wat internasio­naal erkenning geniet het as skilder en keramiekkuns-tenaar, se gesondheid het onlangs verswak en hy is twee weke gelede in die siekeboeg van die Millenniumpark Aftreeoord opgeneem.

Omdat Covid-19 in daardie stadium reeds so­siale distansiëring nodig gemaak het, het die aftree­oord nie besoekers toegelaat nie, en kon sy vriende hom kort ná sy opname nie weer sien nie.

Thijs sou Maandag (8 Junie 2020) 77 jaar oud geword het.

Ek het Thijs leer ken toe ek kort nadat ek en Schalk Die Hoorn op Oudtshoorn begin het, met hom by sy huis in Raubenheimerweg gaan gesels het. Ek onthou hoe die voëls in sy tuin vol bome en beelde gesing het toe ek teen die skuins oprit opstap. Ek onthou my eerste kennismaking met sy huis en ateljees waar skilderye skouer teen skouer gehang en keramiekbeelde rondgestaan het. En die kunstenaar – vir wie ek aanvanklik op my hoede was omdat ek gehoor het hy is ’n perfeksionis en “soms moeilik”. Daardie deel van hom het ek egter in al die jare nooit ervaar nie.
Thijs was warm, verwelkomend, gasvry. Hy was dit altyd vir my en Schalk. Hy was onvoorwaardelik ’n vriend – soos die ander handvol mense in sy Oudtshoorn-vriendekring sal kan bevestig.

Ek het nie baie by Thijs gekuier nie. Hy het bloot aanvaar dat my werk my besig hou, en desnie­teenstaande altyd aangemoedig, geprys, moed ingepraat en uit die bloute gebel om te hoor of dit nog goed gaan.

By sy huis was altyd koffie, en vroeër jare ’n smullekker vegetariese gereg, dadels, humus in die gedempte lig van sy eetkamer.

My lewe is armer. Ware vriende is skaars.

• Thijs het tot kort voor sy dood nog daagliks geskilder en keramiekbeelde gemaak “om die wêreld vir homself en ander mooi te maak”. Dit was sy motto.

Hy het ook geglo ledigheid is die duiwel se oorkussing en dit op ’n keer so aan Die Hoorn beskryf: “Iemand het my eenkeer op my verjaarsdag toegewens: Mag jy só besig wees met skeppingswerk dat jy nie kans kry om verveeld te raak nie. Dit was ’n seënwens.”

Hy word beskou as een van Suid-Afrika se voorste abstrakte skilders, en sy werke is opgeneem in private versamelings en in galerye dwars-oor die wêreld. Dit sluit die Musée des Beaux Art in Montreal (Kanada) en die Longhouse Foundation Trust in New York asook verskeie galerye en versamelings in Europa en Suid-Afrika in.

Hy is in 1993 vereer met ’n Silwer Erepenning vir sy bydrae tot kuns in Suid-Afrika.

Thijs is in die Waterberg naby Ellisras gebore en het aan die Hoër Landbouskool Merensky op Tzaneen gematrikuleer. Hy verwerf die graad BA in Skone Kunste en werk van 1965 tot 1970 as kunsredakteur van Die Vaderland. Tussen 1970 en 1975 werk en studeer hy in Parys in Frankryk.

Terug is Suid-Afrika vestig hy hom in Randburg en vanaf 1990 werk hy aan voorstelle vir die Felix-trust, wat kleihuise verskaf as antwoord op Suid-Afrika se behuisingsnood.

Wanneer hy nie geskilder of potte en beelde gemaak het nie, het hy gedigte, kortverhale en selfs toneelstukke geskryf.

In 1997 verhuis hy en sy lewensmaat, wyle dr Johan Gerber, na Oudtshoorn. Gerber is op 4 September 2008 oorlede.

Schalk sê benewens Thijs se onvoorwaardelike vriendskap en liefde oor die jare het hy hom bewonder vir sy selfdissipline en hardwerkendheid. “Hy het tot kort voor sy onverwagse dood feitlik elke dag geskilder of met klei gewerk. Ook in die uitlewing van sy spirualiteit was hy uiters toege-wyd en sou hy geen lewende wese kwaad aandoen nie. Daarvan sal die voëltjies in sy tuin kan getuig. (Deur Liesel le Roux)