’N BEKENDE orrelis, pianis, musiekonderwyser en geliefde inwoner van Oudtshoorn, Erina Terblanche, is verlede Woensdag ná ’n kort siekbed by haar huis in Wesbank oorlede.
Terblanche het tot nie lank gelede nie nog privaat-klavierlesse aangebied, en was bekend op die dorp as die bekwame begeleier van vele kore en soliste. Sy het onder meer die Griffiekoor van Laerskool Van Reede 24 jaar lank begelei.
Sy het oor drie lisensiate in musiek beskik, die grade B Mus (cum laude) en M Mus en die finale Unisa-kwalifikasie in orrel.
Terblanche is in 2018 deur Langenhoven Gimnasium en die NG Gemeente Oudtshoorn-Suid vir haar groot bydrae tot musiek op Oudtshoorn vereer.
Sy het die skoollied van Langenhoven Gimnasium gekomponeer en was sedert 1983 onderwyser by die skool.
Sy was ook langer as 21 jaar, sedert 1997, orrelis by die NG Gemeente Oudtshoorn-Suid.
“Vandag het ’n Outeniqua-geelhoutboom geval,” het ’n vriendin en musiekliefhebber van Oudtshoorn, AnneLise Schutte-Vlok, oor haar dood op Facebook geskryf.
Sy word oorleef deur twee kinders, Burgert Terblanche en Paulri Cronje. (Deur Liesel le Roux)