Oogkundige en sy saksofoon onafskeidbaar

VYF jaar gelede het Jaco Kriek besluit om homself vir Vadersdag te bederf en vir hom ’n saksofoon gekoop sonder dat hy geweet het hoe om dit te bespeel.

Dis moeilik om te glo as ’n mens hom vandag sien optree. Die saksofoon pas in sy hande asof dit die natuurlikste ding op aarde is, terwyl hy met toe oë die klanke van ’n bekende liefdesballade met gemak sy eie maak.

Dié bekende oogkundige van Oudts­hoorn se fassinasie met die saksofoon het twintig jaar gelede begin toe hy na ’n CD geluister het waarop ’n saksofoonspeler en ’n orrelis saamspeel. Hy was mal oor die klanke van die saksofoon, maar het nooit gedroom dat hy dit eendag self sou kon bespeel nie.

“Ek het in my laerskooljare klavierlesse geneem, maar het ’n aaklike musiek­juffrou gehad wat vir my ma gesê het dat ek absoluut geen musiektalent het nie en liewers nie moet terugkom nie. Vandag is ek spyt ek het nie eerder vir my ma geluister wat wel gedink het ek het talent nie,” lag Jaco.

Hy het wel graad 3-musiek op skool geslaag, kitaar gespeel en deur sy hele skoolloopbaan in die koor gesing.

Vir sy verpligte dienspligjaar het hy by die Suid-Afrikaanse Lugmag se bekende sanggroep, die Kanaries, aangesluit.

Dit was eers in 2014 toe hy ’n graad 6-leerder by ’n musiekaand sien saksofoon speel dat hy daaraan begin dink het om self die instrument te leer speel.

“Die kind het my geïnspireer. Ek het gedink as hy dit kan doen, dan kan ek mos ook. Toe koop ek die saksofoon en vind uit dit is effens moeiliker as wat ek gedink het,” vertel hy.

Sy basiese musiekagtergrond het hom egter baie gehelp. Hy het ná drie formele lesse homself sommer verder geleer deur YouTube-videos te kyk.

“Ek kan note lees, maar ek verkies om meestal op gehoor te speel. Ek vind as ek ’n nuwe stuk op note leer speel, is dit daarna moeiliker om net op gehoor te speel. So, ek leer dit sommer maar van die begin af net op gehoor. Dis vir my lekkerder.”

Sedertdien het Jaco, wat onder die naam JKSAX (Jaco Kriek Sax) speel, ’n gewilde musikant geraak om by funksies, partytjies, troues en restaurante op te tree.

Hy hou daarvan om te eksperimenteer en te improviseer, maar as hy optree, doen hy hoofsaaklik wat in die bedryf bekend staan as “cover songs”, bestaande musiek waarvan Jaco sy eie vertolking doen.

Hy voel dit is belangrik om nie net ’n liedjie te speel nie, maar om dit ge­voel­vol te doen en die emosie agter die liedjie weer te gee.

“Ek het nie die tegniese vaardigheid wat ’n professionele saksofoonspeler sal hê wat uit ’n musiekskool kom nie. Dit sal kom, maar vir nou wil ek dit net geniet en sien dat my gehoor dit geniet.

Dit gee hom bevrediging dat oud en jonk sy musiek waardeer.

“Ek glo ek speel liewer ’n eenvoudige liedjie en speel dit met gevoel as wat ek ’n komplekse jazz-nommer aanpak en daar is geen siel in nie. Eendag in die Somerset Mall het ’n tienermeisie stil gaan staan terwyl ek gespeel het en met haar hand op haar hart en toe oë geluister. Jy kon sien dit was spesiaal vir haar op daardie oomblik.”

Jaco se optredes hou hom deesdae baie besig, maar meeste mense ken hom as ’n oogkundige by Oudtshoorn Oogkundiges waar hy sedert 1998 werk.

“Ek het altyd geweet ek wil in een of ander mediese rigting werk.

Optometrie het my geïnteresseer omdat daar soveel fasette daaraan is.

Mense besef nie altyd hoe kompleks oogkondisies is nie.”

Jaco het, nadat hy aan Hoërskool Oute­niqua op George gematrikuleer het, aan RAU (deesdae Universiteit van Johannesburg) optometrie studeer.

Hy het daarna aanvanklik by Weldon se hoofpraktyk in George gewerk en het ook vir ’n jaar die tak in Riversdal han­teer. Daarna het hy by Specsavers Ocuvision in Port Elizabeth gewerk voordat hy die pos op Oudtshoorn aangebied is.

Hy is passievol daaroor om pasiënte met die praktyk se nuwe tegnologie te help, soos die nuwe OCT-masjien waar­mee ’n skandering soortgelyk aan dié van ’n MRI-masjien van die retina gemaak kan word.

“Retinale kondisies en ander probleme soos gloukoom kan dus vroeg geïdentifiseer en verwys word na ’n oogspesialis. Sodoende kan visie beter beskerm en behou word vir die toekoms.”

Jaco en sy kollega Ninine Erasmus by Oudtshoorn Oogkundiges is van die min oogkundiges wat sklerale lense en Ortho-K harde kontaklense pas. Jaco is ook spesifiek opgelei om droë oë, ’n algemene probleem in Oudtshoorn se droë klimaat, te diagnoseer en te behandel.

Hy sê hy is baie lief vir Oudtshoorn en die omgewing se mense. “Die mense hier het soveel waardering vir dinge en jy leer elke pasiënt persoonlik ken, mense hier praat nog met mekaar. Ek hou daarvan.”

Jaco is in 1972 in Otjiwarongo in die destydse Suidwes-Afrika gebore, maar sy gesin het George te verhuis toe hy drie jaar oud was.

Hy en sy vrou Nadine het twee seuns, wat albei hier gebore is. Hulle het 15 jaar op Oudtshoorn gewoon. Deesdae woon hulle op George waar hul jongste seun skoolgaan, maar Jaco is elke weeksdag op sy pos by die praktyk op Oudtshoorn waar sy saksofoon dikwels langs sy lessenaar staan, reg vir die aand se optrede. (Deur Louise Venter)