Vlinders ook in Klein Karoo

Die Pioneer Caper White. Foto: Steve Woodhall

GROOT swerms vlinders wat die afgelope tyd in Suid-Afrika te sien is, is ook sigbaar in die Klein Karoo.

Steve Woodhall, vlinderkenner en die skrywer van verskeie boeke oor vlinders, sê die wit vlinders wat mense hier sien, is die Pioneer Caper White, ook bekend as die brown-veined white butterfly. (Belenios Aurota).

Woodhall is ’n voormalige president van LepSoc Afrika, ’n organisasie wat al 37 jaar bestaan en vlinders en motte bestudeer en inligting oor hulle versamel.

Hy sê hoewel baie vlinders tans te sien is, is dié migrasie vanjaar later as in vorige jare, as gevolg van onlangse reën.

Hy sê die vlinders wat hoër vlieg, kan duisende kilometer ver vlieg, terwyl die wat nader aan die grond vlieg, slegs ’n paar honderd kilometer ver sal kom. Nog ’n interessantheid is dat die vlinders nie in die nag vlieg nie, maar op ’n plant of grashalm slaap.

Hy sê dit is ’n mi­te dat die vlinders na die eiland Madagaskar vlieg. Ook die storie dat hulle gewasse be­skadig, is onwaar.

Woodhall sê die droogte en die onlangse reën het ’n groot invloed op die getalle vlinders.

Die vlinders in die Klein Karoo vlieg van hier af suid na die see toe. Volgens hom is ’n moontlike rede om oorbevolking te voorkom en te verseker dat daar genoeg kos vir die volgende generasie vlinders sal wees.

Die vlinders is die natuurlike prooi van spinnekoppe en perdebye, wat ook hul getalle verminder.

“Alhoewel klimaatsverandering ’n rol kan speel dat hier so baie vlinders is, is daar tans nie genoeg wetenskaplike bewyse nie, maar die vlinders sal vir die volgende paar weke nog oral te sien wees,” sê Woodhall. (Deur Angelique Erasmus)