DIE Calitzdorper, Juanita Pretorius (46), is nie net die afrigter van ’n bekende rieldansgroep en ’n sanger nie, maar ook die stigter van die jaarlikse World Naked Bike Ride in Kaapstad wat op 7 Maart vanjaar die elfde keer gaan plaasvind; die dag voor die Cape Argus.
Soortgelyke wedrenne vind in talle groot stede dwarsoor die wêreld plaas.
Pretorius sê sy het een aand in 2007 ’n TV-program oor aardverwarming gesien, en dadelik besef dat sy by dié belangrike bewaringskwessie betrokke wil raak.
“Ek was destyds ’n stoelassistent by ’n tandarts in Kaapstad, en het my man vertel dat ek graag iets wil doen om bewusmaking te skep oor aardverwarming. Hy het my ondersteun,” sê sy.
Die gevolg was Kaapstad se eerste World Naked Bike Ride (WNBR) in 2008, met vier deelnemers wat om Kaappunt gery het.
“Die WNBR het intussen gegroei en verlede jaar was daar 300 deelnemers.”
Pretorius, wat agt maande swanger was met die eerste WNBR, het die dag ’n groot aardbol op haar maag geverf om die boodskap nog duideliker oor te dra.
Mense van regoor die land en ook uit die buiteland kom neem elke jaar deel aan die geleentheid.
“Verlede jaar was daar ’n oom in sy sewentigs wat oranje geverf was. Sy vrou het hom voor die fietsry net daar langs die pad met ’n verfrollertjie geverf!” skerts sy.
Sy sê mense is gou om die deelnemers en die WNBR te oordeel, veral omdat baie mense konserwatief groot geword het, maar dat sy glo mense moet “body positive” wees. “Jy moet lewe en uit jou boksie klim. Dink aan die groter prentjie en die doel waarom jy dit doen ‘using nudity to shake and wake the world’. Dit gaan nie oor hoe jy lyk, of hoeveel vetrolletjies jy het nie,” sê sy.
Vir haar gaan dit slegs oor bewusmaking oor aardverwarming wat grootliks veroorsaak word deur die wêreld se afhanklikheid van fossielbrandstof.
Pretorius spog met 57 000 intekenaars wat haar YouTube-kanaal volg. ’n Musiekvideo daarop waarin sy ’n lied sing wat haar man geskryf het, is al amper ’n halfmiljoen keer gekyk.
Sy werk nou saam met die gemeenskap van Calitzdorp, en het twee groepe dansers wat gereeld by Calitzdorp se vul-lishoop oefen. “Dis al plek waar ons het om te oefen, maar dit stuit nie die Kallieklip Stoftrappers, ’n groep jong rieldansers, of die Team van Aspris Hip-hoppers nie!”
Die agt rieldansers, almal tussen 12 en 16 jaar oud, en die 13 hiphoppers, tussen nege en 20 jaar oud, is vanjaar weer by die KKNK te sien. By verlede jaar se KKNK het hulle saam met groot name soos Karen Zoid, Refentse en Hemelbesem opgetree.
“Ek glo daarin dat elke mens ’n verskil kan maak met dit wat jy het. Plant ’n saadjie en wees ’n voorbeeld vir ander, maak nie saak waar jy jouself in die lewe bevind nie.” (Deur Angelique Erasmus)