EEN van die vier verdagtes in die moord van Justin Booysen (30) van Rosebank, Lorenzo Malgas (23), is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Landdroshof borgtog van R5 000 met streng voorwaardes toegestaan.
Malgas, pa van drie kinders, staan saam met Simphiwe Ndoni (31), Ephraim Malgas (41) en Breyton Bruiners (25) tereg op klagtes van moord en aanranding om ernstig te beseer.
Booysen is Sondagaand 17 November 2019 in sy huis in Bella Rosasingel, Rosebank, doodgeskiet.
Die borgtogaansoek van Ephraim Malgas is uitgestel omdat sy regsverteenwoordiger nie Woensdag teenwoordig kon wees nie.
Die ondersoekbeampte, ao Darome Burger, het borgtog vir Lorenzo Malgas teengestaan omdat sy vir sy lewe vrees. Volgens haar het Lorenzo die betrokke aand iemand wat die hek van Booysen se erf toegehou het, met ’n mes gedreig en ook iemand anders aangerand.
Sy het getuig dat die polisie twee vuurwapens gevind het en daar gewag word op die ballistiese verslag van die tweede wat moontlik die moordwapen kan wees.
Voorts is ’n memorandum met 1 824 handtekeninge aan die hooflanddros oorhandig waarin familie en hul ondersteuners versoek dat borgtog nie aan die verdagtes toegestaan moet word nie.
Die applikant se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het vir sy vrylating gevra omdat hy nie ’n vlugrisiko is nie en geen getuienis voor die hof is dat hy getuies sal intimideer of dreig nie.
Volgens Metembo kom die memorandum net uit ’n sekere deel van die gemeenskap en weet hy nie hoe dit bekom is nie.
Metembo het gesê die applikant het aangedui dat hy onskuldig sal pleit en het nog niemand gedreig nie.
“Hy sal veilig wees buite. Hy sal niemand pla en niemand sal hom pla nie.”
Die staatsaanklaer, Mervin Saayman, het gesê die gevoel van die gemeenskap is van groot belang in die saak.
“Die staat het ’n sterk prima facie-saak teen die applikant en hy het nie bewys dat hy op borg vrygelaat moet word nie.”
Hy het egter beklemtoon dat dit nie reg van die gemeenskap is om te dreig om die reg in eie hande te neem nie.
Landdros Theolin November het in sy uitspraak gesê dit is duidelik dat die aangeleentheid groot belangstelling onder die publiek geniet, maar dat die Grondwet almal se veiligheid waarborg.
”Die applikant is onskuldig totdat sy skuld bewys word,” was sy woorde.
Die landdros het bevind dat Malgas met sy skoon rekord nie ’n geneigdheid toon om misdaad te pleeg nie en daar geen bewyse voor die hof is dat hy nie die hofsaak sal bywoon of getuies sal probeer beïnvloed nie.
Volgens hom het die publiek rede om ontstoke te voel en ’n petisie op te stel maar is almal onderhewig aan die Grondwet.
“Die howe opereer onafhanklik en dit word van almal verwag om die Grondwet en die howe te respekteer. Vir lede van die gemeenskap om te dreig om die reg in eie hande te neem is ’n gevaarlike stelling.”
Die applikant het ’n vaste adres en werk, geen vorige veroordelings en ook geen hangende sake teen hom nie. Sy borgvoorwaardes is dat hy nie Suid-Afrika mag verlaat nie, nie betrokke mag raak by enige misdaad nie en elke Maandag en Vrydag tussen 18:00 en 20:00 by die Bongolethu Gemeenskapsdienssentrum aanmeld.
Die saak word op 11 Februarie hervat met die borgaansoek van Ephraim Malgas.
• Catherine Saptou, moeder van Justin Booysen, het ná die hofverrigtinge haar teleurstelling oor die verloop van die saak uitgespreek.
Volgens haar geniet die beskuldigdes voorkeurbehandeling terwyl die slagoffer se familie geïgnoreer word. “Hulle kan nou maar vir my en my kinders ook kom doodskiet,” het Saptou gesê.
Saptou se ander seun, Dueron Saptou (27), is drie maande voor Justin dood in ’n motorfietsongeluk. (Deur Garnett Wicomb)