Susters word entrepreneurs

ENTREPRENEURSKAP moet in die gene wees van twee susters van Calitzdorp, Christolino Pêrel en Ellen Gysman.

Dié twee het onlangs ’n huisrestaurant in Bergsig oopgemaak en is klaar reeds ’n gewilde kuierplek vir mense van die omgewing.

Lino’s Coffee Shop and Light Meals is drie dae per week oop en hulle het selfs al ’n troue hier gehad.

Ellen het kursusse in gemeenskapsontwikkeling en boekhouding by NCC Kollege voltooi terwyl Christolino ’n kursus in entrepreneurskap gedoen het.

Ellen en Christolino is altyd op soek na nuwe geleenthede en het danksy hul uitgebreide netwerk ook al toeriste by die huisrestaurant onthaal.

Hulle langtermyndoelwit is om ’n eetplek by Calitzdorp Spa oop te maak.

Die twee se entoesiasme ken geen einde nie – Christolino, ’n opgeleide toergids, gaan binnekort ’n kursus bywoon in die verwerking en meng van koffie.

“Dan gaan Lino’s Coffee Shop and Light Meals se koffie die beste in die omgewing wees,” vertel sy glimlaggend. (Deur Deon Meyer)