HIERDIE week gesels ons met Die Hoorn se grafiese ontwerper, Tieneke Maritz.
Alhoewel sy in Oudtshoorn gebore en getoë is, het sy in 1988 saam met haar gesin na Betlehem in die Vrystaat verhuis waar sy grootgeword het. Daar het sy vir ’n groot drukkers maatskappy as senior grafiese ontwerper gewerk.
In 2015 het hulle teruggetrek na die groot voël paradys en sy vir Die Hoorn kom werk en is reeds 7 jaar by die koerant betrokke.
Tieneke is verantwoordelik vir die koerant se advertensie uitleg, en ook die opmaak van omtrent al die advertensies wat julle in die koerant sien elke week.
Somtyds stuur kliënte klaar opgemaakte advertensies, maar meestal is sy die een wat dit ontwerp.
Sy kan goed puzzels bou en gaatjies toemaak, veral op ’n Woensdag wanneer ons nie weet hoe om gate toe te kry nie.
Sy tower gewoonlik een of ander ongelooflike vuller op.
Hierdie “Hollander” is baie lief vir seekos, en het my reeds verskeie kere probeer oortuig dat sjokolade-sous met chillie daarin fantasties smaak oor ’n steak.
Dit moet die Hollander in haar wees wat hierdie soet, brand en sout kombinasie geniet.
Sy hekel ook graag om te ontspan, en word gewoonlik in die winter aangesit om vir die personeel vingerlose handskoene te hekel, mens kan nie tik met wollerige vingers nie, maar ook nie met verkluimde hande nie.
Sy was ook ’n “gamer” op haar jonger dae en het IT geswot.
Sy is mal oor advertensies ontwerp en geniet dus haar werk ongelooflik baie en doen dit met passie. Sy het een dogtertjie, Ciska, wat haar ma se hart se punt is.
Skakel gerus vir Tieneke vir enige advertensies of ontwerpe wat gedoen moet word. Sy het baie idees en oulike slagspreuke. (Deur Angelique Erasmus)
Aangename Kennis
Foto: Ilse Jordan Photography