Wanneer die water min raak … en die reën wegbly

Deur Liesel le Roux

Die afgelope ruk praat inwoners van die Klein Karoo dikwels oor water en oor reën.
Want die veld word al droër, die watertariewe styg al hoër en dam­vlakke daal persentasiepunt ná per­sentasiepunt.

Het Liewe Jesus dan nou die deel van die land vergeet? vra ’n vrou met seer in haar oë verlede naweek.

By ’n ander geleentheid maan iemand dat ons almal anders sal moet begin dink oor reën en water en ’n nuwe toekomsvisie sal moet kry oor hoe om in die Klein Karoo te woon en te werk en te boer.

Die oorsaak hiervan is aardverwarming, sê hy: iets wat niemand meer kan ontken nie. Hy laat mens nadink. Hy sê ons almal moet groter dink, saamwerk en leer by mense wat elders en hier onder sulke omstan­dighede suksesvol is.

Ons hoor mense dink die droogte in die Wes-Kaap is verby omdat Kaapstad reën gekry het. Hulle weet nie van ons hier in die oostelike deel van die Westelike Provinsie nie.

En tog – in al die gesprekke hoor jy steeds die hoop.

Ons gesels oor vorige winters en lentes en bereken dat alles nog die jaar kán regkom.

Daar is nog tyd. Dit kan nog reën.

Augustus en September en Oktober en selfs November is immers maande waarin dit al tevore baie gereën het. En die sneeu op die berge kan nog kom.

Ons praat en ons bly steeds hoop.