’N VOORREG van byna 22 jaar lank – om elke week ’n koerant vir die lesers van die Klein Karoo uit te gee – kom vandeesweek tot ’n einde.
Toe ons in Januarie 2001 uit Gauteng na Oudtshoorn verhuis het met die droom om ’n eie koerant in dié mooi wêreld te vestig en weekliks oor die mense en gebeure hier te berig, het ons nie kon droom watter avontuur vir ons sou voorlê nie, en ook nie hoe taai dit soms sou raak nie.
Ons is dankbaar dat ons so lank kon doen wat ons in die eerste Hoorn gesê het ons wou: om die nuus uit te basuin!
Ons sê dankie aan die mense van die Klein Karoo – uit al die dorpe en gemeenskappe – wat ons aanvaar en ondersteun het, nuus aangedra en aangestuur het, met ons verskil het, ons uitgedaag het, ons bygestaan en ons ondersteun het.
Dankie aan al die adverteerders wat Die Hoorn deur die jare gedra en dit moontlik gemaak het dat ons inwoners kon inlig. Dankie aan almal wat ons ondersteun het toe munisipale rade op Oudtshoorn ons twee keer geboikot het en alle advertensies van ons weerhou het in ’n poging om ons stil te maak. Dankie aan almal wat vryheid van spraak ondersteun het.
Ons wens vir Die Hoorn, die dorp Oudtshoorn waar ons woon en die Klein Karoo vrede en voorspoed toe.
Ons wens vir minder klakouse, minder morsjorse, minder wat ander kwaad aandoen met dade en die tong, en meer wat omgee en bande oor grense heen bou.
Dankie aan almal wat erns maak met die voorspoed van die gemeenskap en dorp waarbinne hul woon. Dankie vir die wat inisiatiewe loods.
Sterkte aan die nuwe eienaars van Die Hoorn vanaf 1 November, Jaco en Angelique Erasmus. Ondersteun hulle!
Groete, en liefde
– Schalk en Liesel le Roux
Vir 22 jaar lank ’n voorreg!
