Mooi storie oor dié honderas
Ek ry elke oggend sowat halfsewe in Vredestraat, Oudtshoorn, af werk toe en dan sien ek die man met die grootste, stewigste pitbull wat ek nog hier rond gesien het… Die hond loop sonder ’n halsband en hy is so gehoorsaam. Hy sit en wag en voer al sy baas se opdragte uit…
Dis net iets mooi oor dié honderas wat so wreed afgemaak word. Gedag ek deel dit vir ’n mooi storie oor honde en hoe mense wat sulke honde het hulle moet leer hanteer.
– Karen Kleyn, Oudtshoorn
Besorg oor ma se veiligheid
Ek vertel altyd vir mense dat ek die voorreg gehad het om in my geliefde tuisdorp Oudtshoorn groot te word – ’n dorp van groot historiese belang in ’n streek van onvergelyklike natuurlike skoonheid.
Die blyplek van die mees gasvrye inwoners oor alle kulture. ’n Heenkome vir die kunste en kultuur, waar besigheid floreer en ’n mens nog veilig en rustig kan leef, almal saam en onder die beskerming van die plaaslike polisie-diens in samewerking met gemeenskapsleiers en bereidwillige inwoners. Dit was nou die perfekte plek om in ’n sorgvrye omgewing groot te word en deel te wees van ’n wonderlike, bemoedigende gemeenskap.
Ons drie kinders het ná ons hoërskoolloopbaan verhuis om elders in Suid-Afrika en in die buiteland te gaan studeer en werk. Ons ma het agtergebly in haar klein Oudtshoorn-styl-huisie van sandsteen met ’n sinkdak, broekiekant-stoepversiering, en ’n pragtige tuin – klein voor met ’n ware gryswaterlushof agter. Ten spyte van ’n verbrokkelende sypaadjie voor het my ma daar ook ingespring en ’n pragtige blombedding om die ou jakarandaboompie aangelê. Dit alles maak van haar huis ’n toevlug waarheen ons nog steeds saam met ons gesinne kan terugkeer, om opnuut te deel in die liefde, gemeenskapslewe (kerkbasaars, Saterdagmarkte), en die kuns- en kultuurtoneel waarvoor Oudtshoorn intussen bekend geword het.
En elke keer, soos ons na ons verskillende huise vertrek het, kon ons een ding vir seker weet: Suid-Afrika en Oudtshoorn sal altyd ons tuiste wees, want dis waar ons ma gelukkig en veilig is in haar huis en plaaslike gemeenskap, waar sy deelneem in haar kerkaksie, gemeenskaps- en liefdadigheidsake, en waar sy ons afgestorwe familie nog op die familieplot kan besoek, erge verwaarlosing van die begraafplaas ten spyt.
Maar hierdie gevoel van sekuriteit is in Mei en Junie ’22 verpletter. My ma, wat na Gauteng gekom het om mediese hulp te ontvang en haar kinders en kleinkinders te besoek, is deur haar helper en vriend van baie jare ingelig dat haar voorstoep in haar afwesigheid die slaap- en ablusiefasiliteit van lede van die gemeenskap geword het.
Geskok oor hierdie ontstellende nuus en die veiligheidsrisiko wat dit inhou, het ek die Oudtshoorn Polisiediensstasie gebel, wat met trots op hul webwerf adverteer dat hulle 24 uur per dag bereik kan word.
Die waarheid is dat ek vir ure aaneen géén reaksie gekry het nie. Ek was gedwing om hulle te probeer bereik via die nasionale blitspatrollie en 10111-nommers, wie se operateurs my oproepe dadelik beantwoord en sonder suk- ses probeer het om my oproepe na die polisiekantoor deur te skakel.
Dit het net eenvoudig sonder ophou gelui.
Skokkend vir ’n polisiediens!
Siek van bekommernis oor my ma se veiligheid met haar terugkeer, het ek voorgestel dat sy ’n vriend en ’n raads-lid van ’n politieke party bel om die polisie te probeer kry om na die eiendom te gaan en met die oortreders te gaan praat. Die reaksie wat ons gekry het, was dat Oudtshoorn se SAPD glo glad nie meer hul telefone antwoord nie, en ook nie die dorp se strate patroleer of na potensiële misdaadtonele uitkom nie.
Dit lyk of daar geen sigbare polisiëring en/of reaksie op inwoners in nood is nie.
Die enigste reaksie wat ons uiteindelik gekry het, was van ’n buurtwaggroep wat bereid was om verby die eiendom te ry en ’n vriend wat dieselfde gedoen het. U sal besef dat hierdie gemeenskapslede nie gewapen is nie. Hulle het ons ’n guns bewys, wat ons uit die diepte van ons harte waardeer.
Wat het geword van ons geliefde dorp en sy plaaslike diensverskaffers wat veronderstel is om met trots te dien? Met ons belastinggeld?
As ’n samelewing nie meer na sy bejaardes kan omsien nie, is dit ’n teken van volslae onbevoegdheid, gebrek aan sorg en fatalisme.
Aan die burgemeester van Oudtshoorn en die Oudtshoorn SAPD se stasiebevelvoerder: Kan ons nie beter as dit doen nie?
En indien nie, staan dan asseblief opsy vir gemeenskapslede wat bereid is om met toewyding en vindingrykheid hul plig te doen en Oudtshoorn se mense te dien.
– Drie diep besorgde kinders van ’n bejaarde moeder op Oudtshoorn
Stasiekommissaris reageer
Ek neem kennis van die klagte, maar dit is nou moeilik om vas te stel watter spesifieke dag die oproep gemaak is.
Dit kan moontlik gedurende die kragonderbrekingstydskedule gewees het. Sou ons ’n spesifieke dag en tyd kan kry, kan ons vasstel wie die lede en of-fisiere aan diens was.
Ons gee graag weer die nommers:
Skofbevelvoerder 24 uur aan diens: 079 893 9968.
Operasionele kamer : 044 203 9010.
Radiokamer: 044 203 9006/7/8.
Ek kan u verseker dat ons alles binne ons vermoë doen om misdaad hok te slaan. Ons suksesse spreek van die goeie werk wat gedoen word.
Ek vra verskoning as die kommunikasie nie na wense was nie.
– Brig SH Crafford, stasiekommissaris, Oudtshoorn
Aanstelling van woordvoerders
Die onderburgemeester, speaker en vier portefeuljevoorsitters kan om dieselfde rede as die burgemeester ook hul eie mediapersoon aanstel. Dan weet ons dat die geld wat bedoel is vir dienslewering en administrasie aangewend word vir politieke aanstellings. As daar nog ’n paar sente oor is, kan hulle oorweeg om elkeen sy eie PA aan te stel. Dan is hulle nie alleen wanneer hulle êrens moet gaan nie. Die belastingbetalers en Afri het stil geword en rep nie ’n woord nie.
– Tevrede van die hoorn
Reaksie van die burgemeester, Chris Macpherson
Hierdie kwessie van aanstellings is reeds deur die munisipale bestuurder in antwoord op ’n vorige briefskrywer aangespreek. Aangesien hierdie briefskrywer bloot ’n stelling maak en nie ’n navraag rig nie, is daar nie inhoud waarop gereageer kan word nie.