Deur Liesel le Roux
Die een goeie ding van ’n krisis – soos die huidige droogtekrisis op Oudtshoorn en elders in die Klein Karoo – is dat dit ’n gemeenskap druk om wyer te dink en te ondersoek, meer en waarskynlik beter met mekaar te praat en na mekaar te luister, en harder en vinniger na oplossings te soek en te vind.
Ons ervaar hierdie erns en ’n besef van dringendheid in gesprekke wanneer mense oor die huidige droogte gesels. Wanneer ’n droogte dreig om jou gemeenskap baie seer te maak, moet daar vinnig besluite geneem en opgetree word. Nie meer volgende jaar of oor vyf jaar of eendag nie.
Daar moet ook dikwels tydens ’n krisis nuut en innoverend oor baie dinge gedink word.
Byvoorbeeld oor gryswater (gesuiwerde rioolwater): Hoe moeilik of maklik is dit om gryswater by al Oudtshoorn se sportvelde uit te bring (daar is reeds sportvelde en oop ruimtes wat dit ontvang) sodat kosbare drinkwater nooit weer daarvoor sal nodig wees nie? Volgens ons inlig-ting is hierdie ’n kwessie waaraan reeds aandag geskenk word. Dit is goeie nuus.
Byvoorbeeld oor die sinvolheid van ’n tydelike pypleiding van Blossoms na Oudtshoorn teen ’n astronomiese koste van tot R60 tot R80 miljoen, soos deur die provinsiale regering voorgestel. Onthou, hierdie is net ’n tydelike pypleiding en daar is nog heelwat werk voordat duidelikheid sal kom of Blossoms volhoubaar water sal kan lewer.
Die gevoel wat ons op Oudtshoorn ervaar, is bykans eenparig dat dit veel sinvoller sal wees om ’n tweede dam in die Swartberge te bou en die Raubenheimerdam se wal te verhoog. Dit is ongelukkig nie iets wat die munisipaliteit kan doen sonder die toestemming en steun van die Departement Waterwese en die provinsiale en nasionale regerings nie.
Miskien sal die huidige waterkrisis op Oudtshoorn ook die provinsiale en nasionale regerings se aandag vestig op die gebied se eie natuurlike wateropvangsgebied in die Swartberge waar die reën en sneeu na damme kan loop. En dat R60 tot R80 miljoen se hulp vir damme dalk nou die regte keuse is.