Sms’e van lesers

■ Ek wil net graag vir die mense wat strate se name wil verander, vra om die geld te gebruik om grafte by die Condorstraat Begraafplaas te herstel. My oorlede man en skoonpa se grafte is afgebreek. Hulle het baie geld in Oudshoorn belê. My skoon­pa was jare lank tegnikus by die poskantoor en my man het in die omgewing gewerk. Die skurke, gewetenlose misdadigers wat net wil verniel om hul vernietigingslus te bevredig, is naamloos. Vat maar asb daardie geldjies en maak ons geliefdes se grafte heel. Baie dankie. Isabel Brown

■ Kan Eljada Laerskool nie dalk olyfbome plant waar die stuk grond in Baron van Reedestraat tans vol onooglike dooie bome staan en terselfdertyd inkomste bewerkstellig nie? M Schmidt, Tuishuis

■ “Iemand sou byvoorbeeld in my spreekkamer inkom en sê dit of dat is fout. En so dikwels het ek gedink: Weet jy, as jy net ’n werk gehad het, ’n rede om in die oggend op te staan, en jy kon jou kinders voed en klee en dit bekostig om hulle skool toe te stuur, sou jy nie hiernatoe gekom het nie. Jy sou net Panados gekoop het.” (Dr Maria Phalime)

■ Dit sal ’n groot verskil maak as elke inwoner net gereeld die sypaadjie en straat voor sy huis skoonmaak. Sommer so vinnig kan ’n dorp ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Daar is besighede en inwoners wat dit doen. Dit is nie moeilik nie en vat nie lank nie. Ek weet. Ek werk voldag en is nie meer jonk nie.

■ Die advertensie van waterbesparing is verwarrend, want dit lyk of ons nou vier ure elke tweede dag kan tuin natmaak. Die vorige waterbesparing was net een uur elke tweede dag. (Waterbeper­kings wat verlede week ingestel is, maak inderdaad voorsiening vir die natlei van tuine binne vier gespesifiseerde ure op drie dae per week. – Redakteur)

■ Baie dankie aan Oudtshoorn Munisipaliteit vir hul vinnige optrede om die elektriese kabel, na ons huis in Melvillestraat, te vervang! Ons het groot waardering daarvoor! Dankbare inwoners

So lyk my oorlede man en skoonpa se beskadigde grafte in die Condorstraat Begraafplaas op Oudts­hoorn. Isabel Brown

So lyk my oorlede man en skoonpa se beskadigde grafte in die Condorstraat Begraafplaas op Oudts­hoorn. Isabel Brown

■ Hoe werk die munisipaliteit se prioriteite? Is die herstel van strate nie hoër op die prioriteitlys as die verandering van straatname nie? Oudtshoorn sukkel met vuil water , maar beskik nie oor ’n filtreerstelsel nie. Is die verkryging van so ’n stelsel nie baie hoër op die prioriteitslys nie? Moet fondse gemors word op name? As daar ’n straat na Mandela vernoem moet word, waarom nie Dassieweg of Springbokweg nie? Sal dit nie meer gepas wees nie. My beskeie mening. Barries

■ Graag wil ek net weet of die munisipaliteit hul beloftes gaan nakom. Ek wil net weet waar’s die winkelkompleks in Bridgton en die Shopping Mall. Daar is mense wat na die Mall verlang. Is die geld daarvoor beskikbaar, of is dit maar leë beloftes?