3 000 km op die Te Araroa in Nieu-Seeland

Einde van ’n lang reis. Folkster en Hannele Tulki-Williams by Bluff aan die suidpunt van Nieu-Seeland se suid-eiland – hul eindbestemming nadat hulle die Te Araroa-staproete wat van die noordelikste tot die suidelikste punt van Nieu-Seeland strek, voltooi het. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
’N OUD-LEERDER van die Hoërskool Oudtshooorn, Folkers Tulki-Williams, het in Maart vanjaar die eerste Suid-Afrikaner geword wat die gedugte Te Araroa-roete voltooi het – ’n afstand van 3 000 km wat strek van Cape Reinga, die noordelikste punt van Nieu-Seeland se noord-eiland tot Bluff, die suidelikste punt van die land se suid-eiland.
Die roete se naam beteken “die lang pad”, vertel Folkers wat die week saam met sy Finse vrou, Hannele, by sy pa, James Williams, op Oudtshoorn gekuier het.
Dit het Folkers en Hannele, wat in Julie verlede jaar getroud is, 128 dae geneem om die 3 000 km af te lê en was ’n ervaring wat vir hulle om verskeie redes baie spesiaal was.
Eerstens was dit hulle wittebrood, maar hulle wou ook vir hul wittebrood ’n avontuur aanpak wat nie net vir hulle onvergeetlik sal wees nie, maar ook ’n verskil sou maak.
“Ons is lief vir stap en die buitelug en wou dit koppel aan iets waaroor ons sterk voel. Dit was vir ons belangrik dat daar ’n doelwit moes wees ,” vertel Hannele ernstig.
Die staptog was uiteindelik ’n fondinsamelingsgeleentheid vir Women’s Bank, ’n Finse organisasie wat vroue-entrepreneurs in Afrika en elders in die wêreld bystaan.
En omdat hulle vroue wil bystaan, was dit vir hulle spesiaal om die staptog – onbeplan – op 8 Maart op Internasionale Vrouedag – klaar te maak.
Hulle het op 1 November 2017 begin stap.
Die egpaar wat mekaar as studente aan die Universiteit van Stellenbosch leer het, sê ’n mens leer jouself baie goed ken op so ’n lang staptog, omdat daar niks buite jou is om op terug te val nie.
Jy is heeltemal uitgelewer aan die natuur en weersomstandighede, en beleef erge hitte, koue, sneeu en siklone. Jy kruis berge, valleie, woude, riviere en stede. Jy loop dae lank op seesand, net om daarna vas te val in die diep modder van ’n woud.
Volgens Folkers gooi baie mense langs die roete tou op.
Hulle het meestal snags in ’n tent geslaap wat hulle saamgedra het, hoofsaaklik gedehidreerde kosse geëet omdat dit ligter is om saam te dra en dikwels vir hulleself pakkies met kos vooruit gepos omdat hulle nie altyd kos kon saamdra nie.
Hulle beoog om nou tydelik in Finland te gaan woon terwyl hulle saambeplan aan nog avonture.
“Ons staptog deur Nieu-Seeland was nie ’n eenmalige avontuur nie. Ons is heeltemal te avontuurlustig daarvoor,” sê Hannele.
• Lees meer oor hul avontuur op Facebook by: hannele and folkers adventures