Sms’e van lesers

■ ’n Foto van ’n plas water voor ons huis na die heerlike reën. My droom is om ’n fotograaf te word. Kyla Knoetze (14)

■ Ons wonder hoe lyk ons armer inwoners se ingewande omdat ongefiltreerde water gedrink moet word. Die munisipaliteit laat al eeue toe dat die meerderheid inwoners onwettige, ongefiltreerde water gebruik. Die wat bottelwater kan bekostig, kla nie, maar die meerderheid inwo-ners kan nie bottelwater bekostig nie – hul liggame moet die water filtreer. Betrokkenes moet by die Mensereg­te­­kommissie aangekla word. Kan mense met die nodige “know-how” dit asb aan die kommissie rapporteer en ons inwoners op hoogte hou asb.

■ Die grootste probleem by die munisipaliteit is amptenare wat voltyds besig is om inligting uit te dra en alles in hul vermoë doen om die raad in ’n swak lig te stel. Hulle voorsien inligting aan in­stan­sies en individue wat nie die raad en munisipaliteit goedgesind is nie. Hulle probeer om die mu­nisipaliteit en kollegas in ’n swak lig te stel. Alvorens die munisipale bestuurder nie intelligensie betrek om diegene vas te trek nie, sal die raad altyd ’n swak beeld hê.

■ Sypaadjie oorkant gesondheidsinspekteur se kantore in Regentstraat word jare al as toilet misbruik. Bedek die grond met teer. Dit sal keer dat urine intrek en reuke veroorsaak. Sit kennisgewing op ’n bord teen muur op hoek – dis teen wet om in die publiek te urineer. Die taxi rank het publieke toilets. Die inspekteurs moet ons inlig hoekom hulle niks doen aan die toestand nie.

Plantvandalisme? Twee van die plante wat Santa Cassara die laaste ruk op die hoek van Noord- en Reserwestraat in Oudtshoorn geplant het, het Maandagoggend met wortels en al bo-op die grond uitgetrek gelê. Die Hoorn het die foto gaan neem nadat ons daarvan gehoor het. Cassara het onlangs vrou-alleen ingespring om die leë stuk grond skoon te maak en met plante en klippe te verfraai.  Foto: Liesel le Roux