Briewe

Eretoekenning vir Santa!

Santa Cassara verdien ’n eretoekenning. Sy het die onmoontlike (vrou­alleen) vermag toe sy die skoonmaak-/ verfraaiingsprojek op die hoek van Reserwe- en Noordstraat begin het. Die bebosde erf, so groot soos ’n rugbyveld, het ’n spinternuwe baadjie aan. Ongelooflik!

Die agtpotiges en sissende blinklywe moes haastig oppak en trek, behalwe vir ’n paar betogers wat geweier het om hul habitat prys te gee.

Want hulle sê: “Ons skrik nie vir vroulike tweebeen-dierasies wat ons grond kom steel nie!” (Ja – hulle luister ook nuus)

Helaas, hulle moes toe ook maar handoek ingooi en die hasepad kies, sonder om ’n pik of steek in te kry.
Ons sê dankie vir die wat plante aangery het. Santa kort nog baie. Ook aan ons Hemelse Vader, wat toe ook kom natgooi het met Sy lieflike stortreën – dankie.

’n Vriendelike beroep op inwoners: wanneer vrywilligers voor of in hul omgewing skoonmaak en verfraai, wees tog gasvry en neem ’n lafenis (water) vir die harde werkers.

Dit kos tog niks nie.

Lag en wees vriendelik. Dit is goed vir die plooie.
– Cecile Ungerer, Oudtshoorn