Drie generasies gesels saam oor Vadersdag

Drie geslagte bymekaar. Oupa Henry Miles (links), Leila (11), Ghia (5), Henro (9) en hul pa, Hennie Miles.
Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
SO baie dinge het oor die jare verander. En tradisies en gesinne is nie daardeur onaangeraak gelaat nie.
Met Vadersdag om die draai het Die Hoorn met ’n oupa, ’n pa en ’n seun van Oudtshoorn – Henry, Hennie en Henro Miles – gaan gesels om te hoor hoe het die lewe verander.

Henry (70) is die pa van drie, twee dogters en ’n seun, terwyl sy seun en middelkind Hennie (42) ook pa van drie is; ook twee dogters en een seun.

Volgens Henry het hy en sy vrou, Annetjie, hul drie kinders familiename gegee. Hul dogters, Magretha en Lana, is na sy en sy vrou se ma’s vernoem, en hul seun, Hennie, na sy oupa en pa.

Hennie het op sy beurt nie by tradisie gehou nie, en sy twee dogters, Leila (11) en Ghia (5), moderne name gegee. Sy seun, Henro (9), het egter sy oupagrootjie, oupa en pa se familienaam gekry.

Nog ’n verskil is die ouderdom waarop Henry en Hennie getrou en kinders gehad het.

Waar Henry op 25 getroud is met Annetjie en nege maande later pa geword het, het Hennie eers op 31 getrou. ’n Jaar later is sy eerste dogtertjie gebore.

Waar dit vroeër algemeen was dat ’n vrou by die huis gebly het, het Henry en Annetjie albei voltyds gewerk omdat hulle hul eie besigheid gehad het.

Hennie en sy vrou is egter in die bevoorregte posisie waar sy vrou Madeleine van die huis af kan werk.

Hennie sê hy was by die meeste van Madeleine se afsprake en skanderings toe sy swanger was met hul kinders. Toe An­ne­tjie egter swanger was, was sulke teg­no­logie egter nie so maklik beskikbaar nie.

Kinders word egter deesdae in ’n an­der wêreld groot as voorheen. Lapdoeke is vervang met weggooidoeke, daar is baie hulpmiddels beskikbaar – soos monitors, terwyl ouers ook deesdae baie veilig- heidsbewus is met die gebruik van byvoorbeeld karstoeltjies.

“Ek glo vandag se pa’s moet help doeke omruil, bottels voorberei en selfs ’n ordentlike aandete maak vir sy gesin,” sê Hennie.

“Mans is deesdae ook meer betrokke by die grootmaak van hul kinders.”

Hennie voeg by dat liefde, geduld en om konstant te wees met dissipline baie belangrik is.

“Koester en geniet elke oomblik saam met jou kinders en gesin, al is dit om net bal te skop saam met hulle,” sluit hy af.

Henro sê sy gunsteling-aktiwiteit is om saam met sy pa bal te skop en veral wanneer hulle saam sokker speel.

“My pa is baie lief vir ons, en braai die lekkerste tjops,”sê dié jongman.

Sy oupa Henry weer deel graag vir hulle lekkers uit, en maak snaakse grappies.

“Maar my pa is definitief die kwaaiste van hom en my oupa!”

Hy sien uit daarna om eendag saam met sy eie kinders bal te skop en vis te vang.

Die laaste goue raad vir nuwe pa’s kom van Oupa Henry: “Leer jou kinders om eerlik en hardwerkend te wees, en respek vir ander mense, hul godsdiens en kultuur te hê. Wees betrokke by jou gesin, en staan jou vrou by.”