DIE belangrikste keuse wat ek en jy in 2019 kan maak, is hoe elkeen van ons die jaar gaan aanpak, het Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, Dinsdag by dié landbou-organisasie se streekkongres op Oudtshoorn gesê.
In sy presidentsrede het Swart verwys na die teoloog dr Stephan Joubert wat gesê het dat slegs mense met die volgende vyf ingestelhede vanjaar gaan floreer:
• Diegene wat weier om deur vrees gevange gehou te word;
• Mense wat nie bedreig voel deur verandering of onsekerheid nie;
• Mense wat koers hou vanuit ’n sterk innerlike identiteit en waardestelsel;
• Mense wat die lewe hanteer vanuit vars denke en wat doelbewus kreatiewe en opbouende interaksie kies; en
• Mense wat kies om in liefde, respek en empatie te lewe.
“Kom ons neem vandag die besluit om al vyf dié boksies te tiek. Laat die besluite wat ons in 2019 neem, ons hoop reflekteer, en nie ons vrese nie.
“Daar is mag in keuses. Jy is waar jy vandag is oor die besluite wat jy gister geneem het. En waar jy môre gaan wees, gaan afhang van die keuses wat jy vandag maak,” het hy gesê.
Hy het die landbouprodusente wat Dinsdag se vergadering bygewoon het, gevra om Agri Wes-Kaap, wat in diens van die landbou in die Wes-Kaap staan en landbouprodusente se belange dien, by te staan.
Hier by Die Hoorn wil ons ons graag vereenselwig met die vyf punte waarna Swart verwys. Dis iets waarna ons almal kan streef om die oorweldigende maalkolk van negatiwiteit onder ons mense te ontkom. (Redakteursbrief deur Schalk le Roux)
‘n Berig en foto oor die streekkongres sal in ons volgende landbou-uitgawe verskyn.