Deur Angelique Erasmus
TEEN Woensdag het ten minste 436 mense reeds petisielyste op Oudtshoorn onderteken waarin hulle protes aanteken teen die gedrag van straatkinders op die dorp.
“Ons as inwoners van Oudtshoorn word gyselaar gehou in ons eie dorp deur ’n sekere groep ongedissiplineerde straatkinders, deur middel van geweld en intimidasie,” lui die petisie.
Die petisie maak ook melding van kinders wat oop en bloot aan bottels suig, gewapen rondloop met messe en skerp voorwerpe, besighede in die middedorp wat gereeld geteiken word, werknemers wat gedreig word, vensters wat stukkend gegooi en voertuie wat beskadig word.
Dit verwys ook na hoe bejaardes wat sagte teikens is, gereeld aangeval en beroof word, en dat toerisme daaronder lei.
Volgens Raymie Alberts, een van die organiseerders van die petisieprojek, het verskeie besighede aangebied dat petisielyste ook by hulle onderteken word nadat die petisie verlede week bekend gestel is.
Die petisielyste sal aan die burgemeester en onder-burgemeester oorhandig word met ’n datum waarop terugvoer verwag word.
Petisies kan onderteken word by Oudtshoorn Spar, PEP Home, Sam’s Clothing, Clicks, Markhams, Truworths, Rou Karoo Restaurant, Pam Golding en Feathers Boutique.