Om dankie te sê…

Liesel le Roux

BY die onlangse algemene jaarvergadering van die KKNK het een van die stigterslede van die fees, die bekende Oudtshoorniet Rosie Schoeman (79), spesiaal ’n spreekbeurt ge­­vra om dankie te sê vir almal wat oor die afgelope 25 jaar gewerk het en steeds werk om die droom van ’n kunstefees op Oudtshoorn te verwesenlik.

Dit was ’n besonderse gebaar, wat almal teenwoordig so ’n paar minute laat terugsit en dink en onthou het, en veral laat besef het hoe ’n groot ding dit vir so ’n plattelandse dorp was en is om die eerste Afrikaanse kunstefees te kon konseptualiseer en te laat realiseer.

Schoeman, by baie op Oudtshoorn bekend as “tannie Rosie”, was self van die begin af deel van die kunstefees en haar opregte dankie het daar­om soveel meer waarde gehad.

Sy het almal weer laat besef hoe belangrik dit is om te droom, al is ons soms bang; al dink ons ons drome is nie belangrik genoeg nie; al twyfel ons oor ons drome en aan onsself; en al word ons gekritiseer.

Sonder drome sou baie ontwikke­lings, uitvindings, besighede en projekte nie daar gewees het nie.

Entrepreneurs sou nie sakeleiers geword het nie.

Die KKNK sou nie daar gewees het nie.

Dromers moet egter ook doeners wees om hul drome waar te maak.

Die Hoorn gesels vandeesweek op bladsy 5 met Rosie Schoeman oor die eerste KKNK, en dit is juis iets wat sy aanraak wanneer sy vertel: “Met die eerste fees het ons alles self gedoen.”

Welgedaan aan dié dromers en doeners!