30 slange in 45 dae gevang

Mornay Thysse, met ’n bielie van ’n Kaapse kobra van sowat 1,7 m. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
SLANGE in Oudtshoorn en die omliggende areas hou dié somer die slangvanger en bekende brand­weerman Mornay Thysse besiger as vorige jare.

Thysse sê die verhoogde slangaktiwiteit in Oudtshoorn kan toegeskryf word aan die droogte, wat tot gevolg het dat die slange kos en water in woongebiede soek.

Die meeste slange wat hy vang, is Kaapse kobras, waarvan die langste een 1,7 m lank was. Die meeste slange kom uit die veld rondom die dorp.

Thysse sê die interessantste slang wat hy tot dusver gevang het, was ’n koraalkobra wat die mooiste kleure het.

Volgens hom is daar nie ’n spesifieke gebied waar meer slange gevang is nie, en het hy slange al oral in die dorp vasgetrek.

Hy sê erwe moet liefs vry van rommel en tuinvullis gehou word, wat sal verhoed dat klein diertjies soos muise daar nes maak en slange lok.

As daar wel ’n slang in jou huis of tuin is, is Thysse se raad soos volg: “Moet nooit self probeer om ’n slang te vang nie. Kontak onmiddellik die noodnommer 044 203 7800 en hou die slang op ’n veilige afstand van sowat vyf meter dop. Hou diere en kinders weg van die slang af.”

Indien iemand wel deur ’n slang gepik word, is dit uiters belangrik om onmiddellik mediese hulp te kry en dadelik na ’n dokter of die naaste hospitaal te gaan.

Die beskrywing van die slang is in so ’n geval baie belangrik omdat dit sal verseker dat dokters weet watter teengif om toe te dien.