Matthys Maree bring Nataniël, Stef Bos en Laurika hierheen

Nataniël tydens 2014 se KKNK.

DRIE van Suid-Afrika se grootste sangers gaan vanjaar op Oudtshoorn te sien wees as deel van ’n konserttoer wat geïnisieer is deur Matthys Maree, bekende pianis, musiekregisseur, vervaardiger én boorling van Oudtshoorn.

Hulle is Nataniël (28 Februarie) met Four Loud People in die Oudtshoorn Burgersentrum, Stef Bos (24 Augustus) met Jou land is my land in die Oudts­hoorn Burgersentrum en Laurika Rauch (4 September) by die Surval Boutique Olive Estate.

Dié OPTOG!-konserttoer gaan vanjaar 40 dorpe en stede oor die land besoek en maak deel uit van die KKNK se 25ste feesvieringe. Dit is die grootste konserttoer deur plaaslike sangers, akteurs en musikante wat tot op hede in Suid-Afrika aangebied is. Meer as 40 dorpe en stede regoor die land en Namibië word besoek en meer as 20 kunstenaars en teaterproduksies is deel daarvan.

Nataniël het met die naam vorendag gekom en is die gesig van die projek, maar die konsep is ont­wikkel deur Maree.

Maree sê: “Oudtshoorn moes eenvoudig op ons roete wees! Ek het daar grootgeword en skoolgegaan. Ek het daar leer klavier speel. En almal van ons wat by OPTOG! betrokke is, het oor die laaste 25 jaar vir en saam met die KKNK daar konsert gehou.

“Ons is bevoorreg om die drie produksies Oudts­hoorn toe te bring buite die gewone feestydperk. Sodoende rek ons die fees waarvoor ons almal so lief is ’n bietjie langer uit en maak ons hopelik ’n bydrae tot KKNK25 se produksie-aanbod!”

Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk sê hy is opgewonde oor die samewer­king met OPTOG!: “Dit is ’n besonderse voorreg om sommer reeds in Februarie die feesvieringe met Nataniël af te skop.”

Kaartjies vir Nataniël se konsert is reeds beskikbaar by itickets.co.za, terwyl kaartjies vir Stef Bos en Laurika Rauch se optredes later ook daar beskikbaar sal wees. Besoek optog.co.za vir meer inligting.