Deur Liesel le Roux
• Jaagduiwels:
Die afgelope Saterdagmiddag terwyl ek kort voor vier vreedsaam na my motor stap wat in Hoogstraat, (Oudts- hoorn) geparkeer was, laat die brullende enjin van ’n versnellende wit motor uit die rigting van die NG Moederkerk my in my spore stop. Daar was nie tyd om my selfoon te lig vir ’n foto nie. Terwyl die motor so vinnig by my verbyjaag dat die alarms van voertuie langs die pad aktiveer, het ek net tyd gehad om die registrasienommer te memoriseer: YGF100GP.
Straat af was heelwat mense in Shoprite se omgewing besig om die straat te kruis. Dink net aan die vernie- tiging wat net een so ’n roekelose bestuurder op ’n Saterdagmiddag in ’n plattelandse dorp kan aanrig.
Daar moet en kan iets hieraan gedoen word. Al wat nodig is, is die wil om dit te laat gebeur.
Baie jare gelede toe ek in die middestad van Pretoria gewerk het, het ek oggend na oggend gesien hoe botsings plaasvind of net-net ontwyk word op ’n straathoek waar mense nie die pyle op die pad gehoorsaam het nie. In plaas van om links te draai in die linkerbaan, het kansvatters reguit aangejaag en voor die motors in die baan langsaan wat ook links moes draai, beland. Ek het ’n brief aan die verkeersdepartement geskryf, en tot my verbasing was die probleem enkele weke later opgelos nadat verkeersbeamptes begin het om daagliks die hoek te moniteer. Ek het tot ’n telefoonoproep ontvang waarin ek bedank is dat ek die probleem onder die verkeersdepartement se aandag gebring het. Ek was dankbaar dat iemand geluister het.
Wat gaan ons dus doen aan die jaagduiwels? Kan ’n whatsapp-groep dalk die antwoord wees waar ons jaagduiwels kan rapporteer – registrasienommer, fabrikaat, tyd en plek? Ons hoor graag van praktiese voorstelle van lesers en gaan ook met die munisipaliteit hieroor in gesprek tree.
Ek hoop ons kan almal hande vat om so die dorp te help beveilig, en die spoedvrate – dikwels jonk, onnadenkend, oningelig en – volgens wat ons op straat sien – manlik – te help om anders te begin bestuur. Ter wille van diegene om hulle.
• Plastieksakke: Ek probeer tans hard om van my kant af die plastiekmonster wat saamwerk om die planeet aarde te vernietig, nie te voed nie. Ek poog om my herbruikbare sakke getrou saam te neem as ek inkopies doen, ek sê nee vir plastiek-drinkstrooitjies. Ek is opreg bekommerd oor die aarde waarop my kin- ders eendag gaan moet woon as men- se net onverantwoordelik voortploe- ter. Ongelukkig is ek deel van ’n minderheid, met die meeste wat oënskynlik nie ’n flenter omgee nie – kyk net hoe versmoor die aarde en see onder plastiek.
En intussen wil almal net plastiek uitdeel. Om elke hoek en draai in Oudtshoorn probeer iemand ’n plastieksak of plastiekstrooitjie in my hand stop. As ek my gemmer en knoffel en groenrissie sonder ’n plastieksak koop, moet ek behoorlik waghou dat dit nie by die weegskaal of betaalpunt in ’n plastieksakkie toegeplak word nie.
My gevolgtrekking is dat bitter min werknemers van besighede bewus is daarvan dat plastiek een van die grootste besoedelaars is, en dat dit okei is om met jou bos wortels by ’n winkel uit te loop sonder ’n plastieksak. Vra ten minste eers of iemand ’n plastiekstrooitjie of sak wil hê. En dankie aan die enkele besighede wat ander alternatiewe soos papiersakke of selfs ’n kartondoos bied.
• Sypaadjies: Op al die dorpe en ook die stad waarin ek sedert my kinderdae gewoon het, het inwoners self die sypaadjies voor hul blyplekke en besighede versorg. Wel, in die meeste gevalle. Oral is daar maar individue vir wie ’n sypaadjie nie belangrik is nie.
In Oudtshoorn versorg baie inwoners ook hul sypaadjies – trek bossies uit, sny gras of vee die oppervlak, en hou die bome aan die lewe.
Maar wat anders is hier, is dat daar ook baie is wat glo die munisipaliteit moet dit vir hulle doen. En waar ’n sypaadjie met bossies voor ’n huis of besigheid onmiddellik sorg vir ’n gekerm oor “die munisipaliteit”.
Kom, mense, om ’n sypaadjie netjies te hou, is tog seker die minste wat elkeen self kan doen?
Of wat sê julle?
– Liesel le Roux